Toulon wil beursie vir Kolbe oopmaak

Cheslin Kolbe in aksie vir Toulouse. Foto: Pascal Pavani/AFP.

Dit is bloot net ’n kwessie van tyd voordat Cheslin Kolbe in die kleure van Toulon in Frankryk sal uitdraf. Oorsese media berig juis dat die Springbokvleuel ná sy Rugbykampioenskap-pligte by die klub sal aansluit.

Toulon sal glo ’n stewige fooi van €1,8 miljoen aan Toulouse moet betaal, terwyl Kolbe dan self ’n jaarlikse salaristjek van €1 miljoen (ongeveer R17,5 miljoen) in sy sak kan steek.

Bernard Lemaitre, Toulon-president, het in die Franse media bevestig dat sy klub in Kolbe belangstel.

“Ons het onsself vooraf voorgeneem dat ons minder op internasionale spelers sal staatmaak, maar hierdie is ’n uitsondering vir ’n uitsonderlike speler,” het Lemaitre aan ’n plaaslike koerant gesê.

“Ek beskou dit as ’n ongelooflike geleentheid omdat ons juis ’n agterlynster nodig gehad het. Ons sou hierdie [transaksie] beslis nie vir ’n gemiddelde speler gedoen het nie.”

Die 27-jarige Suid-Afrikaner is ongetwyfeld een van wêreldrugby se beste (of tans selfs dié beste) spelers.

Hy het belangrike drieë in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die no. 9-spelers nie op die veld kan wees nie.

Kolbe het in sy 82 wedstryde vir Toulouse 172 punte aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Baardman ·

Well done Colbe. Sal beter wees vir jou, want hier kry jy te min die bal in die hande om te wys wat in jou steek. Jy is die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.