Towenaar Gelant speel die Pumas poegaai

Warrick Gelant druk ná sy prag-grondskoppie (Foto: GB Jordaan)

Warrick Gelant. Hierdie Blitsbok van 2014 het Vrydagaand die Pumas deurmekaar gehardloop en dronk gespeel in ʼn wedstryd waarin die Blou Bulle genoeg gedoen het om in die Curriebeker se halfeind-wedloop te bly.

Loftus se skare, klein soos dit maar die afgelope jaar was, het ʼn rugbyfees met 12 drieë gesien waarvan die Bulle agt gedruk en voor rustyd al hulle bonuspunt behaal het.

Hulle wentelling was 52-32 nadat hulle rustyd met 26-13 voor was. En die Bulle het die soort hardlooprugby gespeel waarmee hulle al hoe gemakliker begin lyk.

Toe dinge hier teen die einde uitgerafel het, het die Pumas darem twee troosdrieë gekry om by die eerste van die aand en Willie Engelbrecht s’n in die 60ste minuut te voeg in ʼn wedstryd wat hulle in die tweede kwart met powere verdediging en die hardlooprugby verloor het.

Jerome Pretorius gooi wal teen die Blou Bulle (Foto: GB Jordaan)

Gelant het gepypkan; met vaartversnellings die teenstanders geklop; ʼn wonderlike aangee aan Edgar Marutlulle gegee om te gaan druk toe dit nog ʼn ware wedstryd tussen twee spanne was; ʼn grondskoppie gelos vir ʼn eie drie; ʼn pragtige dwarsskop oor die veld gegee wat deur die goeie ondersteuning van die Bulle met ʼn drie afgerond is.

Kortom, hy het die Pumas die hele tyd aan die raai gehou.

Dit was ook goed om Travis Ismaiel weer op sy beste te sien. Groot, sterk, met baie vaardighede en ʼn uitstekende voorgevoel, is hy dalk die soort vleuel wat op ʼn hoër vlak sy ware moet gaan uitstal.

Die Blou Bulle het in die eerste helfte in die skrums gesukkel. Hulle is ʼn paar keer deur strafskoppe gered toe die sterker pak van die Pumas ondanks hulle oorheersing aan die een kant swakker geskrum en dus die skrum laat swaai het.

Die Bulle se onvermoë om teen die Pumas van die lynstaan af punte aan te teken is nog iets waaraan hulle afrigter John Mitchell ongetwyfeld aandag sal gee.

Travis Ismaiel – een van sy talle kraglopies. (Foto: GB Jordaan)

♦  Die Bulle het met hierdie oorwinning van 27 ligapunte na 32 opgeskuif, wat ook die WP se totaal is. Die Bulle se batige punteverskil is egter, ondanks hierdie 20-punt-oorwinning, steeds 71 swakker as dié van die Westelike Provinsie wat in tweede die plek is.

Die Bulle is dus uit die wedloop vir ʼn tuishalfeind (behalwe as die WP Saterdag om 15:00 met ʼn feitlik onmoontlike 72 of meer punte teen die Sharks in Durban verloor!).

Afhangende van wat Saterdag (17:15) op Ellispark tussen die Goue Leeus (30 punte) en die Vrystaat Cheetahs (31) gebeur, kan die Bulle egter nog die halfeind haal.

Puntemakers –

Blou Bulle (26) 52: Drieë: Edgar Marutlulle, Ivan van Zyl, Travis Ismaiel 2, Warrick Gelant, Marco van Staden, Burger Odendaal, TJ Jackson. Doelskoppe: Marnitz  Boshoff 6
Pumas (13) 32: Drieë: Jannie Stander, Willie Engelbrecht, Selom Gavor, Frankie Herne. Doelskoppe: Kobus Marais 3. Strafdoele: Marais 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

willie ·

Gelant is goed, kies hom op meriete en asb doen weg met kwotas!

Peet ·

Die balvaardighede van hiérdie Bulle het in ‘n kort tydperk dramaties verbeter en dis werklik ‘n plesier om hulle wedstryde te kyk.

Gatvol ·

Ek is bly dat Mitchell die beginsels van aantreklike rugby toepas. As hulle so aanhou word hulle weer n krag. Weg met die stampkar spel.

Christo ·

Los gelant vir nog n jaar by Mitchell. Hy sal dan super speler wees, met groot x faktor. Besring vry bly en hard werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.