Tradisionele klubstruktuur uitgedien, sê promotor

Willem Strauss

Willem Strauss

Veranderde omstandighede noodsaak dat daar afgesien moet word van die tradisonele beskouing dat junior en senior spanne in dieselfde klub gehuisves word.

Die internasionale sportpromotor, Willem Strauss, het op navraag aan Pale Toe! gesê hy glo dis in die belang van rugby dat daar `n wesenlike denkskuif in dié opsig kom.

“Onderouderdomrugby behoort onder afsonderlike bestuur te staan en as afsonderlike entiteit geadministreer te word. Daar moet werklike vernuwende denke kom as ons rugby wil bevorder.

“Die juniors moet heeltemal hul eie beleid hê. ”

Hy benadruk dat dit sy persoonlike beskouing is en hy dit nie in sy hoedanigheid as ampsdraer van enige organisasie sê nie.

Strauss sê die krag van `n klub se senior span moet bepaal in watter liga hy speel.

“As hy sterk genoeg is, speel hy in die senior liga; as die meeste van sy spelers o.21s is, moet hy o.21-rugby kan speel sonder om in die senior liga ingedwing te word.

♦ Kobus van der Walt, die direkteur TuksSport, het vroeër aan Pale Toe! gesê baie skoolverlaters hou op rugby (en sport oor die algemeen) speel omdat die huidige klubopset nie vir hulle aanloklik is nie.

Hy is `n voorstander daarvan dat, byvoorbeeld, oudleerlinge van skole en selfs groeperings van naasliggende skole toegelaat word om klubs van skoolverlaters te stig wat slegs oor `n o.19- of o.21-span beskik en tot dié ligas toegelaat word.

♦ Strauss deel dié beskouing en sê hedendaagse jongmense sal veel eerder `n aandwedstryd saam met `n groep vriende speel as om op die hitte van die dag op `n afgeleë veld sonder toeskouers te speel. Dis eenvoudig nie aantreklik vir hulle nie.

“Dit kan `n groep oud-Affies of ander skolesamestelling wees, sakeondernemings kan hul eie spanne saamstel, selfs kleiner opvoedkundige instellings soos Soltech of Akademia kan hul eie spanne op dié wyse inskryf. Die moontlikhede is haas onbeperk.”

♦ Tradisioneel word van klubs verwag om twee of drie senior spanne en `n junior span of twee in te skryf om senior status te kry.

Die demografie van klubrugby het egter die afgelope klompie jare aanmerklik verander.

Universiteit- en tegnikonspelers is jonger en dié klubs sit sonder `n kern hardebaarde. Klubs soos Polisie, Korrektiewe Dienste en Weermag sit met die hardebaarde, maar het nie meer honderde jong rekrute nie.

Oop klubs sukkel om o.21- en o.20-spanne aan die gang te hou omdat daar eenvoudig nie genoeg geld is om die jonger spelers te vergoed nie. Om die jong spelers te kan betaal, moet die senior spelers minder kry en dan gaan speel hulle eerder by klubs waar hulle beter vergoed word.

Hoewel party klubs goed vaar om onderouderdomspelers te lok en sulke spanne te bedryf, beskou ander dit as `n blote remskoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Omega Jacobs ·

In die dae toe Tuks met hulle magdom spelers, senior, juniors en koshuis alle klubrugby oorheers het was daar ‘niks verkeerd’ met klubrugby nie – hoekom nou ‘n klomp los spannetjies in ‘n ‘sosiale liga’ voorstel. Daar word verwys na geld wat skaars is ‘n aandliga onder ligte gaan nog kostes bring. Gaan vra maar vir oud NTvl klubbeamptes oor die probleme wat daar was met die destydse kantoorliga. Dankie aan die mense wat in die tye van te veel pro rugby nog hulle bydrae by die klubs lewer.

Henk V ·

AHA!! Eerste probleem is geidentifiseer. Hierdie klubspelers neem deel aan ‘n sport. Waarom word hulle betaal?
Tweede probleem, Junior rugby le in geheel in die hande van ons onderwysstelsel. Wat skrikwekkend is. Anders as in NZ en verskeie Europese lande. Hier sluit kinders van 7 jarige ouderdom by klubs aan en neem hulle in jeugligas deel.
MAAR is SA is dit ‘n helse probleem. Want dan het skole geen beheer meer oor die kinders nie. MIN besef hulle dat hulle dan meer tyd het om aan die akademie aandag te gee en rugby in die hande van die professionele mense te los.
Dalk, net dalk, sal ons land dan ook weer op die vlak van NZ en selfs beter kan kompeteer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.