Transformasie, diefstal glo redes vir Matie-agteruitgang

maties logoTransformasie in die breë sin en diefstal is glo van die hoofredes waarom die Maties die afgelope paar jaar so sukkel, maar daar is hoop. Die omkeerproses gaan egter lank en moeilik wees.

Maties en dr. Danie Craven was tot so 15 jaar gelede, selfs jare na sy dood, nog sinoniem. Beurse en gratis inwoning is aan belowende spelers gegee (die klub het 171 Springbokke en 15 nasionale kapteins opgelewer), sy afrigters was ervare en uitgesoek en hy het kompetisies tot `n groot mate oorheers.

Die eerste drie Varsitybekers (2008/’09/’10) is ook deur Stellenbosch gewen, maar vanjaar kon die maroentruie slegs vyfde eindig. Hulle verloor deesdae ook gereeld teen hul aartsvyande, die Ikeys, maar is darem nog die WP se klubkampioene.

Dinge het nie lank nie ná Craven se dood begin skeefloop. Twee opeenvolgende rektors – proff. Chris Brink en Russel Botman – het na bewering vere gevoel vir rugby. Brink se transformasie van onder meer Stellenbosch se taalbeleid en sy rugbykultuur is in konserwatiewe kringe gesien as `n “kruipaksie” by die regering en Botman het hiermee voortgegaan.

Saam het hulle ook die rugbykultuur teengestaan en groot voorkeur aan die uitbou van sokker op die kampus gegee, tesame met `n voorkeurbeleid vir studente wat ook nie die rugbykultuur aanhang nie. Koshuise wat in die verlede vier spanne gehad het, sukkel deesdae om 30 spelers bymekaar te skraap.

Daar heers ook groot kommer oor die Maties se o.20-voedingspan, wat onder `n onervare afrigter al vier sy wedstryde in die Young Guns-kompetisie verloor het, onder meer met 16-41 teen die Madibaz op sy tuisveld en met 5-42 teen UJ.

Die toenemende konsentrasie slegs op akademiese prestasies en die beweerde wanbestuur van en diefstal uit die Markötter-beursgeld het ook beteken dat daar minder geld aan rugby te bestee was. (Die ondersoeke na die beweerde wanaanwending van die beursgeld duur voort.)

Goeie ondersteuning van hul tuisunies ontbreek ook op Stellenbosch. Tuks, byvoorbeeld, het `n saamwerkooreenkoms met die Blou Bulle en buigsame kursusse vir sportmanne is ingestel wat van Tuks byna `n provinsiale span maak. Die Shimlas, Pukke en Madibaz kry soortgelyke steun van hul unies.

Die getransformeerde WP Rugbyunie, daarteenoor, bevind hom in `n politieke mynveld tussen die universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, Wes-Kaapland en die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie (KSUT). Die Ikeys word egter goed deur hul universiteit ondersteun en hulle het die Varsitybeker al twee keer gewen en is vanjaar in die halfeindstryd geklop.

Ilhaam Groenewald is verlede jaar as die Maties se hoofdirekteur van sport aangestel en is vol planne om die situasie te beredder. Sy lê egter klem daarop dat Stellenbosch as `n akademiese instelling bemark word, dat sport tweede kom en dat spelers nie met `n tjekboek gewerf sal word nie, anders as wat die geval aan sommige ander universiteite is.

Groenewald sê sy het `n passie vir sportbestuur en ontspanning en sy is tans besig met `n meestersgraad hierin aan die UWK. Sy het 70 plekke vir sportmense aangevra en sê rugby sal 25 daarvan kry, maar ander inligting uit die Eikestad dui op `n verwagting van 60. Dit lyk ook of die Maties se rugbyklub `n swaargewigdirekteur gaan bykry.

Daar is dus hoop vir Matierugby op die langer termyn. Oplossings is nie maklik nie, want net vier eerstejaars word in die Varsitykompetisie per span toegelaat, en daar is tekens dat dit tot een verminder kan word. Studente wat van universiteit verwissel, mag ook `n jaar lank nie vir sy nuwe universiteit speel nie, tensy hy nagraads is.

Een ligpunt is dat die Maties se nuwe rektor, prof. Wim de Villiers, na verwagting die gewig wat hy het agter die Maties se ryk rugbygeskiedenis sal ingooi.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.