Transvaal wás die eerste Superkampioen

super10Was dit die ware Jakob?

Gewis.

Niemand kan dit betwis nie, dit kan nie uit die rekordboeke gevee word nie: Transvaal het op 22 Mei 1993 die eerste houer van die Super 10-trofee geword toe hy Auckland met 20-17 in die eindstryd op Ellispark geklop het.

Die Suidsee-kampioenskap was die voorloper van die Superreekse en is tussen 1986 en 1990 gehou. Geen Suid-Afrikaanse span kon daaraan deelneem nie en dit het in 1990 doodgeloop.

Daar was geen reeks in 1991 nie en in 1992 het ses spanne aan ‘n saamgeflanste Superses-reeks deelgeneem wat deur Queensland gewen is. Die ander spanne was Nieu-Suid-Wallis, Auckland, Canterbury, Wellington en Fidji.

Die eerste Super10-reeks is in 1993 gehou.

Drie Suid-Afrikaanse spanne – Transvaal, Natal en Noord-Transvaal  (die drie voorste spanne van 1992 se Curriebeker-reeks) – het saam met Nieu-Seeland se vier voorste spanne, Auckland, Waikato, Otago en North Harbour, twee Australiese spanne, Queensland en Nieu-Suid-Wallis en Wes-Samoa  daaaran deelgeneem.

Die spanne is in twee groepe geplaas en die twee onderskeie wenners, Transvaal en Auckland, het mekaar in die die eindstryd gepak.

Albei spanne was gelaai met internasionale spelers en aan Transvaal-kant het net die senter Bernard Fourie, nie (later) die Groen en Goud gedra nie.

Auckland was gelaai met All Blacks en afgesien van die flank Brandon Jackson (wat deur Zinzan Brooke vervang is) en die skrumskakel Nu Nu’uali’itia, wat agt toetse vir Samoa gespeel het, het al die ander spelers die een of ander tyd vir Nieu-Seeland gespeel.

Die Super 10-reeks is nog twee jaar (in 1994 en 1995) voortgesit voordat dit, met die koms van professionalisme in 1996, deur die Super 12-reeks vervang is.

Die spanne vir 1994 se eindstryd was:  Transvaal: Theo v Rensburg, Pieter Hendriks, Bernard Fourie, Japie Mulder, Chris Dirks, Hennie le Roux, Johan Roux; Deon Lötter, Ian MacDonald, Francois Pienaar, Hannes Strydom, Kobus Wiese, Johan le Roux, Uli Schmidt, Balie Swart.

Auckland: Shane Howarth, Terry Wright, Eroni Clarke, Lee Stensness, Va’aiga Tuigamala, Grant Fox, Nu Nu’uali’itia; Michael Jones, Mark Carter, Brendan Jackson, (Zinzan Brooke), Richard Fromont, Robin Brooke, Olo Brown, Sean Fitzpatrick, Craig Dowd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Kan ons nie weer na daardie stelsel terugkeer nie dan kan ons weer ‘n ordentlike Currirebeker ook hê

Nico K ·

Ek stem saam met my naamgenoot hierbo. Die superreeks het te veel spanne, duur te lank en daar is darem baie wedstryde voor halfvol stadions gespeel. (Selfs die kwarteindrondte op Ellispark. Daai een het my nogal verbaas.) Daar was baie meer belangstelling in die Curriebeker in die ou dae. Selfs die afgelope paar jaar wat die Springbokke nie aan die Curriebeker deelgeneem het nie, het daar meer mense in SA die eindstryd op TV gekyk as enige superwedstryd. Die mense kyk eerder die Bulle teen WP of Leeus of Haaie. As Bulle teen Western Force.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.