Bêre jul selfone of bring minder tyd daarop deur.
Dit is die versoek wat dr Sherylle Calder, die visuele oogkundige wat deur die afrigter, Eddie Jones, by die Engelse span betrek is, aan die spelers gerig het.
Jones stem daarmee saam en nou is die bal, of die selfoon, in die spelers se baan.
Volgens Calder loop die spelers se konsentrasievermoë, veral in die eerste vyf minute van ʼn wedstryd, daaronder deur.
Sy het op BBC Radio 5 Live gesê dat wanneer spelers met hul selfone besig is, is dit net hulle en ʼn klein skermpie, maar wanneer hulle speel, moet hulle hulle besluite neem op ʼn groot veld wat wyd voor hulle oopgestrek is.
Dit sal maar bitter moeilik wees om aan haar versoek te voldoen, want selfone en iPads oorheers ons lewens. Wanneer ons gaan slaap, is die laaste ding wat ons doen om vir oulaas na boodskappe te kyk of te twiet. Wanneer ons wakker word, is dit die eerste ding wat ons gryp. Ons is hulpeloos daarsonder, dis die eerste en laaste ding wat ons inpak wanneer ons op vakansie gaan. Dis ons eet-, met- en reisgesel.
Dit het my laat terugdink toe Harry Viljoen nog die Bokke afgerig het. Viljoen het van sakrekenaars gebruik gemaak en elke speler het een ontvang wat hy dag en nag saam met hom moes dra.
Wanneer die spelers op die bus was, moes die sakrekenaars ingespan word om hul eie vertonings en dié van die teenstanders te ontleed.
Die spelers kon nie wag om bus te ry nie, want van ontleding het daar dadels van gekom, van speletjies wel.
Hoe het dinge nie verander nie. As kind het die verhale van Frans de Jager, wat met sy motorfiets van Rustenburg na Loftus toe gery het vir oefeninge en wedstryde, my meegesleur. Ook hoe Jan Boland Coetzee en Jannie Engelbrecht honderde kilometer moes aflê om in Stellenbosch en op Nuweland uit te kom. Hoe Henry Honiball dit reggekry het om van die plaas in Bergville na Pietermaritzburg en Durban te ry om te speel en te oefen.
Hoe Jan Ellis op sy eentjie met klippe in ʼn rugsak gedraf het om fiks te word, hoe Hempies du Toit die wynvate op sy plaas gedra het om sterk te bly.
Is dit op YouTube? sal die jongklomp vandag vra.