Trap Iere in Jones se strik?

Eddie Jones (Foto: theguardian.com)

Eddie Jones (Foto: theguardian.com)

Dis `n baie fyn lyn, maar sommige afrigters het `n besonderse vermoë om met hul eie spelers se koppe te smokkel, hulle op te sweep en tot nuwe hoogtes te voer …

… maar ook sy teenstanders voor ‘n wedstryd kwaad te maak en hulle boonop in `n strik te laat trap.

Dit kan baie keer tot `n span se voordeel wees, maar dit kan ook maklik boemerang, veral as jou span die dag verloor.

Afrigters verskil soos dag by die nag. Sommige is kortaf en nors, hulle sê net die regte dinge en jy moet alles uit hul trek. Ander borrel oor van vriendelikheid en kan nie ophou praat nie, ook oor ander spanne, spankeuses en toe hulle nog kon, oor skeidsregters.

Ek het steeds agting vir die gewese Springbok-afrigter Nick Mallett, maar boeta, kon dié man gesels.

Destyds toe hy nog aan die stuur van die Bokke was, was Gary Teichmann meestal die Bok-kaptein voordat hy ongevraagd gepos is. Mallett was ‘n joernalis se droom, want hy het nie net jou vraag beantwoord nie, maar uitgebrei om twee of drie ander te beantwoord nog voordat dit gevra is.

Hy was op die man af en het nie doekies omgedraai nie, hoewel hy in ‘n paar gevalle verkeerd was (en dit byna nooit wou erken nie). Dis juis hoekom hy in die sop beland beland het, omdat hy sy eerlike mening oor hoë toetskaartjiepryse gegee het, waarmee ons almal saamgestem het.

Dit was eintlik maar die laaste strooi, want die Bokke se peil het agteruit begin gaan en die rugbybase het toe al genoeg van Mallett gehad.

Die Engelse is nou in dieselfde bootjie – hulle het vir Eddie Jones, wat van die heup af skiet.

Slegs `n paar maande gelede het Jones, toe hy Japan nog afgerig het, van die Engelse spelers gekritiseer (ook die kaptein, Chris Robshaw), hy het van die spankeuses (soos dié van Sam Burgess) bevraagteken en was ook nie te vleiend oor sy voorganger Stuart Lancaster nie.

Saterdag pak Engeland die Iere in `n Sesnasies-wedstryd op Twickenham en Jones het reeds onder sy teenstanders se velle ingekruip.

Volgens Jones skop die Iere 60 persent van hul besit weg.

Dit het onmiddellik die Iere warm onder die kraag gehad en die voorspeler-afrigter, Simon Easterby, het sy spelers gemaan om hulle nie daaraan te steur nie.  Die afrigter, Joe Schmidt, het ook reeds teruggekap oor beskuldigings dat die Iere `n eendimensionele span is – maar die saadjie is geplant.

Jones het ook gesê dat hy kan aanvoel dat die Engelse oral oor `n gehate span is (wie se skuld is dit?) en dat die spelers dit moet gebruik om hulle te motiveer en aan te spoor.

Ek het dit jare gelede al besef watter invloed Jones se menings op afrigters het. Toe die Cats in 2000 twee keer (64-0 en 28-5 in die halfeindstryd) slae teen die Brumbies in Canberra gekry het, het Jones dit reggekry om onder Laurie Mains se vel in te kruip – en toe staan dit daar op die telbord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.