Trekvoëls se vere gepluk

Cobus reinach - toetsloopbaan van oorsee af nie moontlik nie. (Foto: RFU)

Cobus reinach – toetsloopbaan van oorsee af nie moontlik nie. (Foto: RFU)

Spelers wat vir oorsese rugbyklubs speel sal nie sondermeer  vir die Springbokspan oorweeg kan word nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Vrydag aangekondig dat Suid-Afrikaanse spelers wat oorsee speel slegs vir die Springbokspan oorweeg sal word indien hulle reeds in 30 of meer toetse gespeel het.

Mark Alexander, president van Saru, sê dié nuwe regulasie stuur “’n sterk boodskap aan spelers wat vir die Springbokke wil speel dat hulle in Suid-Afrika moet bly”.

Die huidige wêreldkampioen, Nieu-Seeland, se beleid bepaal dat alle spelers wat vir die nasionale span wil uitdraf, hulle rugby in die land van die silwervaring moet speel.

Daarteenoor het die Australiese Rugbyunie in 2015 ’n beleid aanvaar waarvolgens slegs spelers wat in 60 of meer toetse vir die Aussies uitgedraf het en oorsee speel weer in aanmerking kan kom om gekies te word.

’n Speler soos die Sharks-skrumskakel, Cobus Reinach, wat onlangs ’n kontrak met die Northampton Saints geteken het en reeds tien keer die Boktrui oor sy kop getrek het, sal dus nie vir die Springbokke verkiesbaar wees nie.

Spelers soos die Stormers se vaskopstut, Frans Malherbe, met 15 toetse op sy kerfstok, sal sy rugby in Suid-Afrika moet speel indien hy vir die Springbokke oorweeg wil word.

Van die spelers wat wel oorsee speel, die heelagter Willie le Roux wat vir Wasps in die Engelse Premierliga speel en reeds in 41 toetse uitgedraf het, sal wel deur die Springbokafrigter Allister Coetzee oorweeg kan word.

Ook Duane Vermeulen, wat in sommige kringe as ʼn moontlike Springbokkaptein genoem word, het reeds 37 toetse op sy kerfstok.

♦  Die beperking wat aangekondig is, geld egter nie in ʼn Wêreldbekerjaar nie, waar die afrigter enige speler kan kies, ongeag sy aantal toetse.

Daar word spesifiek van Wêreldbekerjaar gepraat en nie vir die toernooi self nie. Daar is dus geen duidelikheid dat hy vir ander toetse (soos in die Rugbykampioenskap) in ʼn WB-jaar oorweeg kan word of nie.

♦    Dit is ook onduidelik hoe lank oorsese spelers wat reeds kwalifiseer deel van die Springbokke se voorbereiding moet wees, en hoe hulle fiksheidsvlakke bepaal sal word nie. Dit is albei faktore wat die afgelope jare gekrap het.

♦    Die nuwe regulasie tree op 1 Julie 2017 in werking, wat beteken dat oorsese spelers seker nog in Junie teen Frankryk mag speel ongeag hulle aantal toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JJ ·

As die manne n goeie aanbod van elders kry sal dit dom wees om dit weg te wys. In SA is dit in ieder geval lankal nie meer n eer om opgeneem te word in die Springbok span nie maar eerder n belediging. In NZ word spelers ingesluit in die nasionale span op meriete en nie volgens politieke inmenging nie. Verander sommer ook die Springbok naam na iets anders, dan spaar dit almal van ons die verleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.