Treurige statistiek, maar Kings kan dit teen Benetton omkeer

As dit nie vir die Cheetahs was nie, het die Kings tot dusver die meeste drieë in die pro14-reeks afgestaan. Maar die Kings het een wedstryd minder gespeel.

Die Kings speel Saterdagaand (20:00) in hulle sesde wedstryd in Treviso teen Benetton en kan hier hul eerste sege behaal.

Die Kings het tot dusver 27 drieë afgestaan en die Cheetahs 29. Na vyf neerlae het die Kings nog nie ʼn enkele ligapunt nie; het hulle saam met Benetton die minste drieë (sewe) gedruk en het hulle die liederlike rekord dat hulle in die vyf wedstryde net 60 punte aangeteken en 192 afgestaan het – dus ʼn gemiddelde neerlaag van 12-38.

Nie lekker syfers as jy ʼn Kings-ondersteuner is nie, maar tog die troos dat Benetton net marginaal beter gevaar het. Hulle het darem twee oorwinnings aangeteken.

Saterdagaand se wedstryd is die gulde geleentheid vir die Kings om darem, soos hulle in krieket sê, op die telbord te kom.

Om dit reg te kry, sal die Oos-Kaapse franchise egter die paar lesse tot dusver ter harte moet neem. Hulle sal moet keer, en nie net plek-plek tydens die wedstryd nie maar strykdeur. Die Kings se verbroude duikslae is tot dusver die meeste in die kompetisie.

Bobby de Wee, wat een van die hoogste effektiewe duikslae in die reeks het, kan dit nie alleen doen nie.

Ook sal die Kings hulle besit moet oppas. Wat omkeerbesit betref, is die Kings van die 14 spanne loshande voor. Hier praat mens nie net van hanteerwerk en die bal in duikslae verloor nie, maar veral oor die sinnelose manier waarop die bal telkens in  die hande van die teenstanders geskop word

Skrums, met ʼn ervare voorry, bly ʼn probleem. Waarom?

ʼn Regstelling hier en daar kan tog van manne wat die truuks in die voorry ken ʼn gedugte drietal maak. Schalk Ferreira, Michael Willemse en Martin Dreyer, met Rossouw de Klerk, Tango Balekile en Etienne Swanepoel op die bank, moet Saterdagaand in hierdie faset vasbyt.

En dissipline, waarskynlik die Kings se heel grootste vyand móét eenvoudig verbeter. Hulle het tot dusver die meeste strafskoppe afgestaan

Hoe lank speel hulle al rugby? En  noudat hulle al vyf keer met oorsese skeidsregters te doene gekry het, kan dít nie meer ʼn verskoning wees nie.

Spanne –

Benetton: 15 Jayden Hayward, 14 Angelo Esposito, 13 Ignacio Brex, 12 Alberto Sgarbi, 11 Luca Sperandio, 10 Marty Banks, 9 Tito Tebaldi, 8 Marco Barbini 7 Abraham Steyn, 6 Sebastian Negri, 5 Dean Budd (kaptein), 4 Marco Lazzaroni, 3 Simone Ferrari, 2 Luca Bigi, 1 Federico Zani. Bank: 16 Tomas Baravalle, 17 Cherif Traore, 18 Tiziano Pasquali, 19 Marco Fuser, 20 Robert Barbieri, 21 Edoardo Gori, 22 Ian McKinley, 23 Tommaso Benvenuti.

Southern Kings: 15 Masixole Banda, 14 Sibusiso Sithole, 13 Jacques Nel, 12 Luzuko Vulindlu, 11 Alshaun Bock, 10 Pieter–Steyn de Wet, 9 Godlen Masimla, 8 Dries van Schalkwyk, 7 Jurie van Vuuren, 6 Andisa Ntsila, 5 Bobby de Wee, 4 Stephan Greeff, 3 Martin Dreyer, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Schalk Ferreira. Bank: 16 Tango Balekile, 17 Rossouw de Klerk, 18 Entienne Swanepoel, 19 Lubabalo Mtyanda, 20 Khaya Majola, 21 Rudi van Rooyen, 22 Oliver Zono, 23 Berton Klaasen.

Skeidsregter: Sean Gallagher (Ierland)
Assistent-skeidsregters: Rhys Thomas, Jonathan Hardy (Wallis)
Televisieskeidsregter: Sean Brickell (Wallis)

Afskop: 20:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.