Trevor se veelsydigheid ’n groot pluspunt, sê Franse klub

Trevor Nyakane. (Foto GB Jordaan)

Veelsydigheid was waarskynlik een van die wagwoorde toe Racing 92 besluit het om die dienste van die Springbok-stut Trevor Nyakane te bekom.

Die vriendelike voorryman pak glo binnekort sy tasse vir Parys nadat hy ’n kontrak van drie jaar met die Franse klub onderteken het.

En volgens SuperSport moet die Fransmanne ongeveer R5 miljoen opdok om Nyakane van die Blou Bulle af te rokkel.

Die 32-jarige stut het 82 wedstryde vir die Bulls gespeel, terwyl hy die Pretorianers ook tien keer in die Curriebekerreeks verteenwoordig het.

Op die internasionale verhoog was hy reeds in 54 toetse vir die Springbokke in aksie en hy het ’n gedugte voorry saam met Ox Nché en Bongi Mbonambi in die Suid-Afrikaners se Europese toer gevorm.

Benewens sy krag is een van Nyakane se sterk punte sy bereidwilligheid om te speel waar sy span hom benodig.

“Deesdae is ek beslis ’n vaskopstut, maar alles gaan oor die groen en goud en waar die span my benodig. Goeiste, ek sal selfs slot speel as dit moet, maar ek gaan waarskynlik ’n bietjie in die lynstane sukkel,” het hy vroeër ná die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus gesê.

En dit is hierdie veelsydigheid wat Laurent Travers, Racing 92 se hoofafrigter, laat glimlag.

“Trevor kan die trui van ’n vaskopstut óf ’n loskopstut dra; ek dink hy het selfs al vir ’n paar wedstryde haker gespeel. Hy is ongelooflik veelsydig en hy sal ongetwyfeld ’n positiewe invloed op die span hê,” het Travers in ’n onderhoud met AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.