Tugkomitee knip Arendse se vlerke

Kurt-Lee Arendse het ook die Springbokke se eerste drie teen die All Blacks gedruk. Foto: Twitter.

Kurt-Lee Arendse sal vir vier weke die Springbokke se vordering van langs die veld moet dophou nadat ’n tugkomitee hom geskors het.

Die 26-jarige agterspeler het ’n rooi kaart in Saterdag se Rugbykampioenskap-wedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Nelspruit gekry, nadat sy poging skeefgeloop het om die bal vir die Springbokke in die lug te wen.

Arendse, wat ’n skop in die 74ste minuut van die kragmeting agternagesit het, het met Beauden Barrett in die lug gebots en die All Blacks-losskakel het op sy kop geval.

Hoewel die Springbok ook mediese behandeling op die veld ontvang het, het skeidsregter Angus Gardner ná ’n kort kajuitraadsessie onmiddellik die rooi kaart uit sy sak te voorskyn gebring.

Sanzaar se tugkomitee – bestaande uit Michael Heron, Stefan Terblanche en John Langford – het bevind dat Arendse wet 9.17 oortree het. In ’n neutedop bepaal dié wet dat ’n speler niks aan ’n teenstander mag doen terwyl sy voete van die grond is nie.

Volgens Heron (voorsitter) was Arendse se optrede roekeloos en gevaarlik, terwyl dit ook ’n aansienlike uitwerking op sy teenstander gehad het.

Die tugkomitee het egter bevind dat die Suid-Afrikaner se optrede nie doelbewus was nie, terwyl sy goeie dissiplinêre rekord ook in sy guns tel.

Arendse, wat harsingskudding ná die Barrett-botsing opgedoen het, sal nou eers weer op 17 September verkiesbaar vir die Springbokke wees.

Dit beteken dat hy onder meer Suid-Afrika se wedstryde teen Australië sal misloop.

Aaron Smith het ook sy misnoeë met die Springbokke se voorliefde vir skoppe uitgespreek.

“Ons sal aan ’n teenvoeter vir hul skoppe moet werk, maar terselfdertyd is hierdie einste taktiek ook soms ’n bietjie gevaarlik. Dit was angswekkend om te sien wat met Beauden Barrett gebeur het en dit is iets waarna gekyk moet word. Ons sal ook voortaan die ouens wat om die hoë bal baklei beter moet beskerm,” het die All Blacks-skrumskakel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

VaalDonkie ·

Nie dat my opinie gewig dra nie, maar dit klink regverdig. Hulle erken dit was nie doelbewus nie, maar tog was dit uiters gevaarlik. Hoop maar die 4 weke gaan vinnig verby.

Hannelie ·

Volgens my het hy deurtentyd uitstekende spel gehandhaaf…..en net een ou foutjie gemaak. Besige bytjie

Jean ·

Mense onthou altyd die een foutjie en nie die goeie dinge nie.

Chantel ·

Hy het ‘n baie goeie wedstryd gehad, maar ja, dit was volgens my mening ‘n baie slegte “tackle”, any way. Sterkte KL

Kokkie ·

Nie aspris nie ? Soos wat Barret geval het, kon hy verlam gewees het. As dit nie aspris was nie, dan was dit pure domheid.

piet ·

Ek onthou in die 1980’s is hierdie hoe skoppe as intiminerende takiek beskou. Die gunsteling taktiek was om die ontvanger van die die bal uit die poel uit te loop sodra hy die bal vang. Toe kon jy die ou in die lug speel, al vereiste was dat die vanger in besit van die bal moes wees. So wat eintlik meeste van die tyd gebeur het, was dat die vanger eintlik baie selde gespring het want dit sou te gevaarlik wees. Miskien is dit die oplossing. Aanvaller en vanger van die bal moet nie toegelaat word om in die lug te spring nie. Ons onthou natuurlik die tragiese geval van Chris Burger. Daar was ook ‘n hoe bal op hom geskop en hy is geplettervat net toe hy die bal vang. Hy is nie van die tackle beseer nie (ek dink ne so nie) maar daar het ‘n losskrum net daarna ontstaan waar ‘n klomp spelers oor hom gedryf het terwyl hy op die grond gele het en hy het sy nek gebreek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen verdediger moet eintlik binne 2 meter van die ontvanger wees nie. Hoekom skop spelers in elk geval besit weg? Die bal is daar om mee te hardloop. Nou hoop die skopper die vanger maak ‘n fout.

Roek ·

Weet glad nie van die reel nie!, hoe op aarde gaan jy kompiteer of ‘n skop afstorm ??

Republikein in die Wes Kaap ·

Vleis Visagie was vooraan daai losgemaal.

Michael ·

Die beste oplossing is dan om die reel te verander sodat albei ‘n speler se voete op die grond moet wees wanneer hy die bal vang. In die meeste gevalle is dit nie nodig om in die lug op te spring om die bal te vang nie. Daar word in elk geval baie kere in die lug gespring net om die verdedigers uit te lok om aan hulle te raak in die lug.

Owlie ·

As dit opsigtelike vuilspel was sou die besluit aanvaarbaar gewees het Hier is 2 spelers wat gelyktydig uit 2 verskillende rigtings gespring het om besit van die bal te neem, 2 spelers van 2 spanne/lande wat nie roekeloos op getree het nie, 2 spelers wat dieselfde besluit geneem het en met hul oog op die bal in die lug gespring het. Beide spelers was beseer, Arendse is van die veld geneem en nie n woord is verder oor die aard van sy besering ge uiter nie maar n rooi kaart kan vinnig uit geruk word n Jong man wat n groot aandeel in die wen van die wedstryd gehad het word gestraf terwyl daar ander foute oor gesien is Nee dink weer – n rooi kaart een wedstryd uit en ja dis aanvaarbaar – wanneer spelers werklk vieslik vuil speel word dit toevallig gerieflikheids halwe mis gekyk of ge ignoreer maar hier waar die wêreld kon sien wat gedoen word en hoekom word so n besluit geneem net omdst die SA Bokke nou tops is Bokke wys vir hierdie skeidsregter en tug komitee wat in julle steek .

Roek ·

Hy is nog jonk en was hy onder geweldige druk, dit was verkeerd en stem ek saam , onthou dit was die selfde wat met Kwagga gebeur het met sy eerste toets!

N ·

Ja hy was dalk verkeerd. Maar as die rolle geruil was sou Barrett nogsteeds volgende naweek gespeel het.

Waarnemer ·

Kurt-Lee se oog was op die bal en NIE op Barrett niue maw hy het nie opgemerk dat Barrett alreeds in die lug was toe hy spring nie….hierdie was n blote ongeluk en myns insiens nie n rooi kaart regverdig nie….maar” Cowboys dont cry”,ons sal Saterdag weer die All Blacks ore aansit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.