Tuguitspraak kan wye impak hê

Christopher Bosch - bond se oortreding regverdig nie puntestraf. (Foto: Varsity Cup)

Christopher Bosch – bond se oortreding regverdig nie puntestraf. (Foto: Varsity Cup)

`n Tuguitspraak vandeesweek oor die inspan van onwettige spelers skep waarkynlik `n presedent wat in die toekoms wye impak op soortgelyke gevalle in SA rugby kan hê.

Hoewel die Boland daaraan skuldig bevind is dat hy `n speler onregmatig gebruik het, is beslis dat die oortreding bloot tegnies van aard was en daarom nie die wegneem van punte regverdig nie.

Die bond is wel met R42 000 beboet, opgeskort vir `n jaar, omdat hy die senter Christopher Bosch vanjaar ses keer sonder die die nodige vrywaringsertifikaat gebruik het.

Bosch was by die klub Brakpan geregistreer en die klag is deur die Valke ingedien. `n Soortgelyke klag wat deur die OP Kings teen die Boland ingedien is, is van die hand gewys.

Die verhoorbeampte, Robert Stelzner SA, het gesê hoewel Boland laat vir Bosch se vrywaringsertifikaat aansoek gedoen het, is dit nooit betwis nie en onmiddellik uitgereik toe die aansoek ingedien is.

Spanne, veral op klubvlak, wat voortaan punte vir tegniese oortredings verbeur, sal hulle waarskynlik voortaan op hierdie beslissing kan beroep.

Wat die OP se klagte oor die Boland se gebruik van Basil Short (stut) en Shaun McDonald (flank) betref, het Stelzner bevind die spelers se kontrakte met die OP is gekanselleer.

Geeneen van die partye het die kontrak nagekom sedert Oktober 2015 toe die bond nie die spelers se salarisse kon betaal nie, en die spelers is in elk geval op 1 Desember in kennis gestel dat die bond met hulle wil onderhandel om die kontrakte te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

André May ·

Wat die berig nie sê is dat Adv Rob Stelzner deel was van ‘n Saru appèlkomitee wat verlede jaar die wegneem van klomp ligpunte van die Pumas se O/20 span vir ‘n soortgelyke oortreding, bekragtig het. Die gevolg was dat die span nie meer vir die uitspeelwedstryde gekwalifiseer het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.