Tuine raak die slaansak van Assupolreeks

tuine-grizzlies-logoTuine se Grizzlies is besig om die slaansak van die Noorderbonde se Assupolreeks te raak en het Saterdag oor die 150 punte teen die Tukkies (Fezelas) afgestaan.

Die studente het 152-0 gewen, nadat die Naka Bulle die klub 126-0 en Centurion dit 87-3 verniel het.

In Saterdag se ander eerstespanwedstryde in die A-afdeling het Pretoria Polisie (Blou Bulle) die Universiteit van Johannesburg se Ratels (Goue Leeus) 42-12 verslaan; en Rustenburg Impala (Luiperds) het die Dragons (Blou Bulle) 26-14 geklop.

In die B-afdeling het Northam se Rhinos (Limpopo Blou Bulle) 39-12 teen die Universiteit van die Witwatersrand (Goue Leeus) gewen; Shumba Ferro’s van Witbank (Pumas) het Letaba (Limpopo Blou Bulle) 47-24 geklop; en Middelburg (Pumas) het die Blou Bulle se Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) 40-0 oorrompel.

♦ Martin Vlok, die klubbestuurder van die Dragons, laat weet die tempo teen Impala was van meet af aan hoog en die Pretorianers is ietwat onkant betrap.

dragons“Impala het Dragons in die skrums en lynstane oorheers en sy agterlyn gevoer. Dit was gou duidelik dat Dragons op alle silinders sal moet vuur of Impala hardloop met die wedstryd weg. Hy was rustyd reeds 21-0 voor.

“Dragons het sy spelpeil in die tweede helfte daadwerklik gelig en sterker teenstand gebied,” het Vlok aan Pale Toe! gesê.

“Die span het ongelukkig vroeg in die wedstryd sy staatmaker-losskakel, Marnus van Rensburg, met `n besering verloor, die heelagter, Emilo Duvenhage, het sy plek bekwaam volgestaan.

“Hy het Impala gereeld laat omdraai met sy reusekantlynskoppe en Dragons die geleentheid gegee om in die wedstryd terug te kom.”

Die wedstryd is ongelukkig deur onnodige geel kaarte aan albei kante bederf, maar die gehalte van die rugby was steeds hoog, sê Vlok.

Dragons het twee drieë in die tweede helfte gedruk en dit verdoel, om nader aan Impala se telling the kruip.

Impala het die bepalende drie laat in die tweede helfte gaan druk toe `n Dragons-speler die bal blindelings weggegooi het en dit deur `n teenstander onderskep is.

Vlok sê albei spanne het baie hard vir hul punte gewerk. Dragons het sy man in al die fasette gestaan en is steeds `n sterk aanspraakmaker in die reeks.

♦ Die tweede spanne het nie vir mekaar teruggestaan nie en die wedstryd het sprankelrugby opgelewer, berig Vlok. Impala was rustyd 12-7 voor, maar Dragons het 36-20 gewen.

“Die agttalle het goed teen mekaar opgeweeg en moes hard om balbesit en -behoud werk.

assupol nuut“Die hoë speltempo is in die tweede helfte gehandhaaf, maar Dragons se voorspelers het die oorhand gekry en die wedstryd begin dikteer. “Reynhardt Schutte se naam het telkens opgeduik vanweë die kookwaterrugby wat hy gespeel het. Hy was skitterend in die los en het die bal puik gedra om twee van Dragons se ses drieë te druk.”

♦ Die Dragons se derde span het Impala 29-12 getroef en skouspelagtige rugby gespeel, sê Vlok. Impala was insgelyks rustyd 12-7 voor.

“Voor en agter het elke speler by die ingeoefende wedstrydplan gehou en in die tweede helfte ten volle beheer oor die wedstryd geneem. Die spanne het goed teen mekaar opgeweeg, maar die fikser Dragons het veral agterlangs die botoon gevoer.”

Die senter Riaan (Cappie) Vosloo het twee van Dragons se vyf driee gedruk.

♦ Die o.21-span het sy goeie reputasie gestand gedoen deur Impala 26-17 te klop. Hy was rustyd 7-5 voor.

Vlok sê dit was `n klipharde wedstryd en die spelers het mekaar soos twee boksers eers opgesom alvorens hulle mekaar behoorlik opgekeil het.

“Die voorspelers het met brute krag en fiksheid die gesag oorgeneem en in die tweede helfte drie drieë gaan druk.”

Die losskakel, Francois Thysse, het sy agterlyn oordeelkundig gebruik en drie van die vier drieë verdoel.

♦ By gebrek aan `n Impala-o.20-span het Dragons en die Naka Bulle `n wedersydse proefwedstryd teen mekaar gespeel. Naka was rustyd 17-0 voor en het 24-0 gewen nadat die jong Dragons hul verdediging opgeknap het.

Ferro's logoFerro’s wen met verswakte span 

♦ Willie Oosthuizen, die hoofafrigter van Ferro’s, sê die span het veral met sy skrumwerk beïndruk in die eerste Assupolwedstryd teen Letaba, en die samespel tussen voor- en agterspelers het soms werklik belofte getoon.

“Die hand van die twee nuwe afrigters Renier Harmse en Stanley Dodd was duidelik sigbaar.

“Fiksheid is nog `n wesenlike probleem so vroeg in die seisoen en die spelers en afrigters sal heelwat aandag daaraan moet gee,” sê hy.

Met die uitsondering van Bennie Mashabane (nou by die Sharks se o.21-span) en Dylan Pieterse (Western Force o.21) het Ferro’s sy volle uitsoekgroep van 2015 behou.

Oosthuizen sê tussen die nuwe spelers wat groot belofte toon, tel Jack Mnazo (vleuel), Musa Mulambo (stut), Roelof van der Colff (senter), Ruan van der Colff ( haker) en Elandré Botha (vleuel en buitesenter).

“Vir `n eerste wedstryd was ons aangenaam verras met die nuwelinge in die span, veral Marco Grobler (skrumskakel) wat in sy buiging as die speler van die wedstryd aangewys is. Ons gaan nog lank goeie dinge van dié 19-jarige sê.

“Jackie Smit het op nommer ses weer eens `n reusewedstryd gespeel en was dodelik by die afskoppe en afbreekpunte.”

Oosthuizen sê Ferro’s was nie op volle sterkte nie. Christiaan Els het familieverpligtinge gehad en Tommy Collin se arm is nog in gips.

“Hul plaasvervangers het egter hul plekke deeglik volgestaan.”

Els sal wel die komende Saterdag vir die wedstryd teen Lonmin (Luiperds) op Mooinooi beskikbaar wees, maar Collin sal vir die Pumasliga in April moet wag. Saterdag se kragmeting sal bepaal wie boaan die groep eindig met die oog op die halfeindronde op 5 Maart.

Ferro’s se heelagter, Jannie van der Merwe, het 15 van sy span se punte met `n drie en vyf doelskoppe behaal.

Mzwaki Fransman (linkervleuel), Dewald Pieters (buitesenter), Hugo van der Merwe (regtervleuel), Grobler, Izan Green (agsteman) en Jeandi Oosthuysen (slot) het die wenspan se ander ses drieë gedruk.

♦ Die tweede en derde spanne se wedstryde is afgelas vanweë die afstand wat Letaba moes aflê en sy spelers wat nie almal so vroeg op `n Saterdag al Witbank toe kon vertrek nie.

♦ Oosthuizen sê Ferro’s se naamborg, Shumba Mining, het sy ooreenkoms met die klub vir die vyfde opeenvolgende jaar verleng. Die klub het twee bykomende borge bekom.

Ander uitslae –

A-afdeling

Tweede spanne: Polisie 36, UJ 0; Tukkies 172, Tuine 0.

Derde spanne: UJ 19, Polisie 19; Tukkies 40, Tuine 0.

Onder 21-spanne: UJ 58, Polisie 0; Tukkies 52, Tuine 10.

Onder 20-spanne: UJ 78, Polisie 0; Tuine 30, Tukkies 3.

B-afdeling

Tweede spanne: Northam 57, Wits 0; Middelburg 28, TUT 3.

Derde spanne: Wits 75, Northam 0.

Onder 21-spanne: TUT 40, Middelburg 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.