Tuisveldvoordeel is soms so goed soos ʼn wen

Ellispark (Foto Youtube)

Tuisveldvoordeel was nog altyd een van ʼn rugbyspan se grootste bondgenote.

Dink maar terug aan die destydse oorheersing van Noord-Transvaal op Loftus Versfeld, aan die Westelike Provinsie se goue jare op Nuweland, aan Ellispark en die Springbokke … en so kan ons aangaan.

Jy wou destyds nie teen Noord-Transvaal op Loftus speel nie, veral nie as Thys Lourens die loot met eentonige reëlmaat gewen het en in die tweede helfte afdraande gespeel het nie, van noord na suid.

Eintlik was dit die hoogte bo seevlak wat die besoekende spanne gekelder het, maar “Loftus se Spook” het jare lank met die teenstanders se koppe gesmokkel.

Dink maar ook aan die Wêreldbeker-sege in 1995 toe Francois Pienaar-hulle die All Blacks in die eindstryd op Ellispark geklop het, en toe Jake White se 0.21-span in 2002 ook op Ellispark as Junior Wêreldkampioene gekroon is, en ook aan Saterdag se toetswedstryd op Ellispark toe die Springbokke Engeland met 42-39 gekelder het nadat hulle met 3-24 agter was.

Dís hoekom dit so lekker was om te sien hoe die jong pronkende Hane Dinsdagaand in Perpignan die jong All Blacks met passie, trots en vaart uit die halfeindronde van o.20-Wêreldkampioenskap geboender het.

Dis hoekom dit so lekker was om dit saam met 15 000 passievolle Franse toeskouers te kon meemaak.

Hou die Franse maar dop in die eindstryd teen die Engelse, die hele Frankryk gaan agter die jong Hane staan.

Om tuis te speel, gee jou ʼn baie groot voordeel.

Besoekende spanne haat dit om op Ellispark of Loftus te speel, sekerlik oor die hoogte bo seevlak, die passievolle toeskouers, en oor vorige nederlae.

Dis hoekom hulle dit verkies om in Durban, Umhlanga, Kaapstad en selfs Sun City te bly en voor te berei en dan so vinnig moontlik weer ná die toets pad te gee.

Sou dit nie ideaal gewees het om elke eerste toets op Loftus of Ellispark te speel nie?

Dís waar die slag in die eerste toetse van die reekse in 1960 en 1970 teen die All Blacks geslaan is, waar die Engelse se sterte Saterdag geknoop is, waar die Wallabies met 21-64 verslaan is. Dís waar Wallis met 96-13 vermorsel is en waar die Iere hulle vasgeloop het, en dis waar die Britse en Ierse Leeus in 2009 die beslissende toets en die reeks verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duiwelsadvokaat ·

Stem…en Nuweland is soos ‘n tuiswedstryd vir die all blacks

alwyn burger ·

Snert !. Die Duitse generaal Rommel het sy grootste oorwinnings vêr van Duitsland in die woestyn behaal. Bjorn Borg syne in Engeland en nie in Swede. Jan Smuts syne in Engeland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.