Tukkies-losskakel wil wedstryde vir sy span wen

Theo Boshoff in aksie. Foto: Verskaf/Christiaan Kotze.

Dit is ’n Maandagaand en Varsitybeker-tyd op die LC de Villiers-stadion in Pretoria. Die tuisspan se ondersteuners is in sak en as nadat die Pukke se Eugene Hare deurgehardloop het vir wat talle as die wendrie beskou het.

Maar ’n held word gekenmerk deur sy vermoë om nooit moed te verloor nie. En met die sirene wat reeds vir die einde van die wedstryd geloei het, was Tukkies se Theo Boshoff só ’n held. Die Pretorianers se losskakel het komkommerkoel die wenstrafskop tussen die pale deur gejaag om toe te sien dat Tukkies dié aksiebelaaide wedstryd met 42 – 40 wen.

En vir diegene wat gedink het dat dit ’n vertoning is wat nie sommer weer herhaal kan word nie, dink weer: Boshoff het al vantevore met sy skopvoet wedstryde vir sy span gewen.

In verlede jaar se o.21-Curriebekerkompetisie het hy vir die Bulle in die eindstryd teen die Westelike Provinsie geskitter. Hy het 18 van die Pretorianers se 33 punte aangeteken terwyl hy ook ’n belangrike rol in Tukkies se pad na die Young Guns-titel van 2017 vertolk het.

Foto: GB Jordaan.

Die jong losskakel het aan Paarl Gimnasium gematrikuleer en een van die hoogtepunte in sy tyd by dié spogskool was toe hulle die jaarlikse derby teen Paul Roos met 28 – 24 gewen het. Die Springbok Damian Willemse was op dié dag sy direkte teenstander.

Hy vertel dat die Springbok-generaal, Handré Pollard, ook ’n groot rol in sy loopbaan gespeel het.

“Toe ek in gr. 8 was, het Handré vir Paarl Gim se eerste span gespeel. Ek onthou hoe verstom ek was oor sy ongelooflike vermoë om die bal vrék ver te skop. Ek het aanvanklik nie gedink dat so iets moontlik is nie, maar deesdae probeer ek my manier van speel op sy spel skoei,” het Boshoff gesê.

Nes Pollard het dié Kapenaar ook die groot trek na die noorde aangepak; ’n stap waaroor hy glad nie spyt is nie.

“Om vir die Bulle te speel het my hele persepsie oor die rol van ’n losskakel in ’n span verander. Ek was op skool meer van ’n losskakel wat gereeld met die bal gehardloop het. In die afgelope drie jaar het ek in ’n meer afgeronde no. 10 verander. Ek weet nou wanneer om te skop en wanneer om met die bal te hardloop.”

  • Tukkies speel volgende week teen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.