Tukkies se (Varsity)beker loop oor

Foto: GB Jordaan.

Die Universiteit van Pretoria se rugbyspan het gisteraand vir die vierde keer die Varsitybeker-trofee omhoog gehou toe hulle die hoogsaangeskrewe Ikeys met 34 – 27 getroef het.

Wat die prestasie selfs meer indrukwekkend maak is dat die Kaapse studente vóór die finaal ’n onoorwonne lopie van amper tien wedstryde geniet het, terwyl hulle ook ’n kwaai terugvegpoging in die tweede helfte moes afweer.

Tukkies het ’n lekker rustydvoorsprong van 31 – 10 geniet – te danke aan ’n paar goeie voorspelerdrieë en ’n briljante teenaanval wat deur Sango Xamlashe afgerond is.

Ikeys het egter in die tweede helfte met ’n herlewingspoging vorendag gekom wat vir niks geskrik het nie, maar Tukkies het meer as genoeg in die eerste helfte gedoen om die vonkelwyn én die beker nader te trek.

Foto: GB Jordaan.

“Dit was ’n besonderse wedstryd gewees. Ek het sommer weer soos ’n trotse Tukkie gevoel,” het Chris Massyn ná die afloop van die wedstryd vir Maroela Media gesê.

En die losvoorspeler van die Cheetahs behoort te weet waarvan hy praat. Hy was aan die stuur van die Tukkies-span toe hulle die titel in 2017 gewen het, terwyl hy ook vir die Maties in hul suksesvolle veldtog ’n seisoen of twee later aangevoer het.

Volgens Massyn was dit ook lekker om te sien hoe die jong spelers in sy Pretoria-dae – ouens soos Eduan Lubbe en Jaco Bezuidenhout – in hardebaarde ontwikkel het.

Die Varsitybeker bied ook die perfekte platform vir jong rugbyspelers om hul professionele sportloopbane van stapel te stuur.

Foto: GB Jordaan.

“Ek het net weer opnuut besef hoe ongelooflik die kompetisie is omdat dit wonderlike blootstelling aan die spelers bied. Dit sukses van 2017 was een van die hoogtepunte van my lewe; nie net wat die oorwinning betref nie, maar in daardie oomblik het ’n klomp spelers se rugbylewens verander.”

Zander du Plessis – die heelagter van Tukkies wat in die afgelope halfeindstryd Demetri Catrakilis se rekord vir die meeste punte in ’n seisoen verbeter het – het onlangs ’n kontrak met Griekwas onderteken.

  • Puntemakers:

Tukkies: Drieë: Cebo Dlamini, Sango Xamlashe, Etienne Janeke en Hanru Sirgel. Doelskoppe: Zander du Plessis (3). Strafskoppe: Du Plessis (2).

Ikeys: Drieë: Robert Hunt, Byron Chanswick en Athi Gazi (2). Doelskoppe: James Tedder en David Hayes. Strafskop: Tedder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.