Tukkies volgende jaar terug in Varsitybeker

(Foto: GB Jordaan)

Tukkies se oorwinning van 66 – 24 teen die Madibaz in Pretoria beteken nie net dat hulle die enigste onoorwonne op die Varsityskild-punteleer is nie, maar hulle sal in 2025 ook weer in die Varsitybeker-afdeling te siene wees.

Die Jakarandastad-studente se houtlepelgeploeter verlede jaar het gesorg dat hulle na die Skild moes afskuif, maar hul huidige punteleerheldedade beteken dat die rugbyorde weer in Pretoria herstel is.

Daarteenoor sal die Madibaz – wat tweede op die Skildpunteleer is – volgende maand ʼn promosie/relegasiewedstryd teen die Ixias speel om te bepaal of hulle ook in die hoër afdeling te siene sal wees.

(Foto: GB Jordaan)

Tukkies het Vrydag nege drieë teen die Oos-Kaapse besoekers gedruk en teen rustyd het hulle ʼn voorsprong van 35 – 17 geniet.

Kobus Janse van Rensburg het sy teenwoordigheid op die speelveld laat geld en hy het in die openingsalvo’s van die wedstryd reeds twee drieë gedruk.

Ethan Burger en Henry Till het ook elkeen twee drieë tot die Tukkie-rugbypartytjie bygevoeg.

Till is weliswaar met ʼn geel kaart van die veld gestuur, maar dit het nie die tuisspan in sy spore gestuit nie.

  • Puntemakers:

Tukkies: Drieë: Kobus Janse van Rensburg (2), Ethan Burger (2), Henry Till (2), Cayno February, Chad-Lee Valentine en Hayden Kemp. Doelskoppe: Jean-Pierre Wentzel (8) en Kyle Cyster. Strafskop: Cyster.

Madibaz: Drieë: Strafdrie, Qurin Cupido, Kyley Erasmus en Leon van der Merwe. Doelskop: Kehan Myburgh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.