Tuks en Maties sweet om die eindstryd te haal

Sibahle Maxwane het twee keer gaan druk, waarvan die een drie sewe puinte werd was. (Foto GB Jordaan)

Dit was nie maklik nie, maar Tukkies en die Maties het genoeg gedoen om die eindstryd van die Varsitybeker-reeks te haal.

Tukkies sal Maandag 17 April op die LC de Villiers-stadion teen die Maties in die eindstryd te staan kom.

Tuks oorkom begeesterde Shimlas

Die ligavoorlopers Tukkies, die ligavoorlopers, is deur na die eindstryd van die Varsitybeker nadat hulle Maandagaand ’n begeesterde Shimlas-span met 28-21 in Pretoria geklop het.

Die Pretorianers het drie drieë in die eerste helfte gedruk om rustyd met 23-9 voor te loop, met die algemene gevoel dat die damwal in die tweede helfte sou breek.
Maar die Vrystaters het die tweede helfte met hernieude ywer op die veld gedraf en het na drieë deur Hanno Snyman en Niel Claassen die agterstand na slegs twee punte laat krimp met tien minute se speeltyd oor.

Nadat Tukkies se haker Corniel Els egter kort voor die einde gedruk het, was die besoekers se terugvegpoging daarmee heen.

Doelgerigte rugby en goeie ondersteuning het die Tukkies na die eindstryd gehelp (Foto: GB jordaan)

In die eerste helfte het die Bloemfonteiners voorlangs nie net in die skrums swaar geleef nie, maar ook telkens nie hulle springers in die lynstane kon vind nie.

Vir die wenspan het die skakelpaar Rian Warner en Tinus de Beer uitgeblink. Hulle het gapings in die Bloemfonteiners se verdediging gevind, wat daar op die oog af nie was nie.

Dat De Beer boonop op die verdediging ook ’n kolos was, bevestig die feit dat ’n blink toekoms op die voormalige Junior Bok wag..

Puntemakers –

Tuks (23) 28: Drieë: Sibahle Maxwane, Maxwane (*), Rian Warner, Corniel Els. Doelskoppe: Tinus de Beer 3.
Shimlas (9) 21: Drieë: Phumzile Maqondwane (*), Hanno Snyman, Niel Claassen. Doelskoppe: Marco Mason 2
(*) Sewepuntdrie.

Maties se halfeind eindig byna in hartseer

Dit was nie klinies nie en beslis nie ’n afgeronde vertoning nie, maar op die ou einde het die Maties Maandagmiddag in Stellenbosch genoeg gedoen om hulle plek in die eindstryd van die Varsitybeker-reeks teen Tukkies te bespreek.

Die Shimlas se agterlyn het hulle ook goed van hulle taak gekwyt wanneer daar hardloopkans was (Foto: GB Jordaan)

Die Stellenbossers het met 22-14 gewen om die tweede jaar agtervolgens tot die eindstryd deur te dring. Maar dit was so amper of hulle veldtog het in trane geëindig.

Vergeleke by verlede week se wedstryd toe die Stellenbossers nege drieë teen die UJ gedruk het, is dié wedstryd gekenmerk deur ’n magdom hanteerfoute en dalk oorgerustheid aan die kant van die tuisspan.

Tog was daar tekens van briljantheid soos die drie van Kyle Steyn vroeg in die eerste helfte. Sy spanmaat, die buitesenter Michal Haznar, het eers ’n paar verdedigers in die lug laat gryp voordat hy vir Steyn weggestuur het, wat op sy beurt bloot onder die Johannesburgers uitgeseil het.

Die grootste deel van die tweede helfte het UJ balbesit oorheers, maar kon behalwe vir Ronald Brown se drie nie veel uitgerig kry nie, iets wat wel ’n pluimpie vir die Maties se verdediging is.

Die besoekers het wel hulle kanse gehad, soos die heelagter Ewan Adams wat vroeg in die wedstryd die bal met ʼn oop doellyn voor hom aangeslaan het.

Die betroubare skopper losskakel Divan Nel, het twee maklike strafdoele en ’n moeilike een van diep in die Johannesburgers se helfte van die veld, verbrou. Voeg daarby die mislukte poging van die senter Jaco Fourie om Brown se drie te verdoel en die telbord kon dalk anders daar uitgesien het.

Die Maties se kaptein Craig Barry duik oor die doellyn vir sy drie. (Foto: Anton Geyser/Saspa)

Vir die Maties het Steyn oudergewoonte uitgeblink. Maar as die Stellenbossers in die eindstryd weer so ’n lustelose vertoning opdis, sal die Varsitybeker beslis nie staanplek in die Boland kry nie.

Puntemakers –

Maties (15) 22: Drieë: Kyle Steyn (*), Craig Barry. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 2
Strafdoele: Stapelberg 2.
UJ (9) 14: Drie: Ronald Brown. Strafdoele: Divan Nel 2. Skepdoel: Nel.
(*) Sewepuntdrie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.