Tuks kry tweede pak, Maties stoomroller Shimlas

Twee goeie, gelykop wedstryde en twee waar die verloorders aanvanklik goed geveg het, maar uiteindelik teen sterker spanne moes besgee, het die tweede ronde van die Varsitybekerreeks gekenmerk.

In Johannesburg het die verdedigende kampioen, UP-Tuks, die tweede keer in twee wedstryde slae gekry. Hierdie keer was dit ʼn vasberade Wits wat met 25-19 op hulle tuisveld gewen het.

Soos die wedstryd tussen die Madibaz wat met 17-27 teen die Ikeys verloor het, was hierdie wedstryd by Wits deurgaans in die weegskaal.

Die Witsies was ongelukkig toe hulle tydens die kragspel wat deur Tukkies na die tweede strategie-breekslag aangevra is, gaan druk het ná die skeidsregter per ongeluk in die pad was. ʼn Sewepunter was daarmee heen.

Maar hulle het die stang vasgebyt, teen die sterk aanvalle van Tuks voorlangs gehou en waar nodig die bal lug gegee.

ʼn Goeie wedstryd, met miskien te min volle agterlynbewegings maar allermins net ʼn stugge stryd voorlangs – en Tuks was goed genoeg om te glo dat die seisoen nog lank nie verby is nie. Hulle was stukke beter as verlede week.

♦ Die Madibaz het moontlik hulle stryd teen die Ikeys verloor nadat hulle, ná volgehoue druk, deur die skitterende verdediging van die Ikeys gefnuik is.

Die telling was 27-17 met die Ikeys wat drie keer teenoor die twee van die tuisspan gaan druk het.

Daar was sowat agt minute, net ná die aanbreek van die laaste kwart, net een span op die veld, maar die Ikeys se verdediging, hoofsaaklik teen die een Madibaz-voorspelerfase na die ander, het hulle van punte weerhou.

Toe die Kaapse studente daarna wegbreek en gaan druk, was die koeël deur die kerk. Hulle skrumwerk was daardie raps beter, en by die afbreekpunte was hulle aggressie ook opvallend.

Benewens die goeie verdediging, het ʼn verdoelde sewepuntdrie ná mislukte spel tydens die kragspel-opsie deur die Madibaz vyf meter van hulle eie doellyn af, die Ikeys se agterstand ná 54 minute van 11-17 tot ʼn voorsprong van 20-17 gevoer toe die Kaapse studente gaan druk het.

Dit het ʼn groot rol in die Ikeys se sege gespeel.

Water in die Wes-Kaap is op hierdie Maties se verlanglysie! (Foto: Twiter @varsitycup)

♦ Die Maties se regtervleuel Duncan Saal het met sy algemene spel en ook sy drie drieë die tweede agtereenvolgende week die toekenning as die beste speler gekry in die wedstryd wat die Maties met 56-21 teen die Shimlas op Coetzenburg gewen het.

Die Shimlas, wat verlede week die verdedigende kampioen UP-Tuks in Pretoria geklop het, het nooit op die telbord naby genoeg gekom om te wen teen ʼn span wat die voorseisoense voorspellings begin gestand doen dat hulle die span is wat geklop sal moet word nie

Die aggressiewe verdediging van die Maties het daarvoor gesorg dat die Shimlas se ritme net nie aan die gang kon kom nie.

Sewe drieë, drie van hulle sewepunters, teen die Shimlas se drie waarvan twee in die ses minute voor en na rustyd gekom het, vertel van die Maties se oorheersing.

♦ Die Ixias het aanvanklik uitgehaal, en was met rustyd 10-7 voor en ná ʼn onverdoelde sewepuntdrie van UJ.

Hierdie sewepunter van UJ is daarna nog drie keer herhaal en met 33 punte wat van die vier sewepuntdrieë en ʼn doodgewone een van vyf punte gekom het, was Ixias weer sleg aan die verloorkant.

Die eindtelling was 48-21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Nou hoekom is dit ook nie in skok oorwinning oor Tukkies nie Wim vd Berg as hulle baie beter was as verlede week dan is hulle maar nog steeds baie swak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.