Tuks se onoorwonne status verdrink; Maties marsjeer voort

Divan Nel se 18 punte het die Tukkies van hul onoorwonne troontjie help stoot. (Foto Saspa)

Divan Nel se 18 punte het die Tukkies van hul onoorwonne troontjie help stoot. (Foto Saspa)

Tuks, die enigste span wat voor Maandag se wedstryde nog onoorwonne was, is hulle status kwyt, terwyl die Pukke weer op die wenpad is en die Maties steeds voortmarsjeer in die Varsitybekerreeks.

Tuks hul onoorwonne status kwyt

Tuks se onoorwonne status is daarmee heen nadat hulle 18-17 in Johannesburg teen die UJ slae gekry het.

Die UJ was in die wedstryd, wat in gietende reën beslis is, tot twee minute voor die einde 18-12 voor. Die besoekers het verwoed aangeval en strafskop na strafskop meters van die Johannesburgers se doellyn afgedwing.

Toe die tuisspan se uitblinkerflank, Wian Conradie, met ’n geelkaart afgestuur word en Tuks van ’n skrum af gaan druk met speeltyd verstreke, was ’n oorwinning ’n gegewe met ’n redelik maklike doelskop wat deur die plaasvervangerlosskakel Joshua Stander oorgesit moes word.

Maar Stander het die skop verbrou, wat ’n eerste oorwinning in vanjaar se kompetisie vir die Johannesburgers beteken het.

Die UJ, wat in die eerste helfte glad met min slaankrag nie na ’n wenspan gelyk het nie, ’n magdom hanteerfoute en hulle voorspelers wat in die skrums, het in die tweede helfte teruggeveg en danksy die losskakel Divan Nel se skopvoet in die prentjie gebly.

Die UJ se plaasvervangerslot, Kevin du Randt, het van die oomblik wat hy op die veld gekom het dadelik met vuur en ywer gespeel, iets wat nie net Tuks oënskynlik ontsenu het nie, maar ook sy spanmaats aangesteek het

Die Johannesburgers, wat vooraf geen kans gegun is om die wedstryd te wen nie, het die oorwinning aan ’n spanpoging en geloof dat hulle die wedstryd kan wen te danke.

Vir die besoekers het die heelagter Divan Rossouw en die senter Impi Visser deurgaans gevaarlik gelyk, maar dit was nie genoeg om ’n oorwinning te verseker nie.

Puntemakers –
UJ (6) 18:
Strafdoele: Divan Nel 6.
Tuks (6) 17: Drie: Denzel Hill. Strafdoele: Tinus de Beer 3, Joshua Stander.

Pukke terug op wenpad

In ’n reënerige Potchefstroom het die Pukke die Ikeys 20-13 geklop om weer op die wenpad te kom nadat hulle verlede week teen die Maties vasgeval het.

Vir die Pukke het die senter Elden Schoeman in die tweede minuut gaan druk en dit het ondanks die reën gelyk of die Potchefstromers met die telling gaan weghardloop.

Na rustyd het die haker Louis van der Westhuizen boonop gaan druk wat ’n oorwinning vir die Pukke bo alle twyfel verseker het.

Die Ikeys se slot Gary Porter het in die doodsnikke `n sewepuntdrie gaan druk om die Kapenaars met ’n bonuspunt te laat terugkeer na die Moederstad vir dié neerlaag met sewe of minder punte.

Puntemakers –
Pukke (13) 20:
Drieë: Elden Schoeman, Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Schalk Hugo 2. Strafdoele: Hugo 2.
Ikeys (3) 15: Drie: Gary Porter (7 punte). Doelskop: Lohan Lubbe. Strafdoele: Robert Anderson 2.

Madibaz laat Maties swoeg vir sege

Die Maties moes werklik uithaal vir hul sege op die Danie Cravenstadion teen die Madibaz wat eers sowat sewe minute voor die einde finaal hokgeslaan is toe twee van hulle spelers met geelkaarte van die veld was.

Trouens, die Madibaz was rustyd 11-5 voor met die hoogtepunt vir hul slot Wynand Grassman se drie toe hy oorgebeur het. Die Madibaz het hou vir hou teruggeveg nadat die Maties net na die eerste kwart ʼn voorsprong  van 5-3 gehad het na die skrumskakel Brendon Nell se eerste drie.

Net na die omdraaislag het die slot Ian Groenewald vir die tuisspan gaan druk en na Christopher Smith se eerste van vier doelskoppe was die Maroentruie voor, 12-11.

Die keerpunt het moontlik in die 49ste minuut gekom toe Nell ʼn sewepuntdrie – sy tweede drie van die aand – gaan druk en die nege punte na die doelskop die Maties se telling van 12-11 na 21-11 geneem het.

Daarna was dit inhaaltyd vir die Madibaz – en hulle het dit met vasberade spel probeer vermag. Sowat tien minute na Nell se drie het Stephanus Nieuwoudt die Madibaz met ʼn drie laat nader kruip, maar die doelskop was onsuksesvol.

Ixias en die Shimlas is uitgestel nadat die SUT se veld oorstroom is (Foto Frikkie Kapp Saspa).png

Ixias en die Shimlas is uitgestel nadat die SUT se veld oorstroom is (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Op 21-16 in die tuisspan se guns was enigiets egter nog moontlik, selfs al het die Maties die wind in hulle blaaie gehad.

Maar toe is die Madibaz met twee feitlik gelyktydige geelkaarte in die laaste 11 minute gestraf.

Stellenbosch het beheer oorgeneem en die heelagter Craig Barry het in die 73ste minuut gaan druk en Smith het dit 28-16 gemaak. Die gaping was toe reeds te groot vir die 13-man Madibaz.

Die Matiesenter Michal Haznar het die sege twee minute voor die einde vir die wenspan verseker en Smith se vierde doelskop het die eindtelling 35-16 gemaak en die Maties na die bopunt van die puntelys laat skuif.

Puntemakers –

Maties (3) 35: Drieë: Brendon Nell 2 (5 punte, 7 punte), Ian Groenewald, Craig Barry, Michal Haznar. Doelskoppe: Chris Smith 4.
Madibaz 11 (16): Drieë: Wynand Grassman, Stephan Niewoudt. Strafdoele: Thomas Kean 2.

Ixias teen Shimlas: nat veld lei tot uitstel

Die wedstryd tussen die Shimlas en die Ixias wat op die SUT-stadion in Bloemfontein beslis moes word, is vroeër voorlopig na Dinsdag om 13:00 uitgestel nadat die veld weens die baie reën, wat in dié stad geval het, onder water was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.