Twee Blitsbokke tussen Kavaliers se agt nuwes

Ryan Nell – die Kavaliers se nuwe kaptein. (Foto: Frans le Roux/Paarl Post)

Ryan Nell – die Kavaliers se nuwe kaptein. (Foto: Frans le Roux/Paarl Post)

Al agt nuwelinge in die Bolandse Kavaliers se span Vrydag teen die Sharks het provinsiale ervaring en twee het vir die Blitsbokke gespeel.

Die buitesenter Ryan Nell, `n Blitsbok en gewese Blou Bul, voer die span in sy eerste wedstryd vir die bond aan.

Nes Nell `n Blitsbok en gewese Blou Bul, maak Shaun Adendorff, sy buiging aan die kant van die skrum. `n Goeie toekoms word vir hom voorspel.

Die heelagter, Nico Scheepers, het Superrugby vir die Cheetahs gespeel; Sergio Torrens is `n gewese Luiperdsvleuel; Shaun McDonald het slot en flank vir die OP Kings gespeel; Okkie van Zyl is `n gewese Griffons-slot; Basil Short het vir die Blou Bulle en OP Kings in die voorry gesak; en Gavin Hauptfleisch, wat op die bank begin, het as losskakel Vodacombekerrugby vir die Sharks-vyftiental gespeel, en Durbanville-Bellville verlede jaar gehelp om die Goue Beker te wen.

Brent Janse van Rensburg (Foto: BRU)

Brent Janse van Rensburg (Foto: BRU)

Die veteraan-agsteman Zandré Jordaan is as onderkaptein aangewys, en die hoofafrigter, Brent Janse van Rensburg, het sy voorneme aangedui om die kapteinskap binne `n leiergroep te wissel.

Die wedstryd Vrydag 19:00 word in die Sugar Ray Xulu-stadion in Durban beslis.

♦ Janse van Rensburg sê hy is tevrede met die span se vordering in die voorseisoen, veral sy vertoning in die jongste littelosmaker teen die Westelike Provinsie se Curriebekergroep, wat die Boland 39-29 gewen het.

In die ander twee het Boland vir Hamiltons 17-12 en die WP-amateurspan 50-14 geklop.

Die afrigter gee toe dat die uitdaging vorentoe strawwer word, maar glo die deeglike onderbou sal `n doeltreffende uitvoering in die geheel toelaat.

Die span –

15. Nico Scheepers, 14. Sergio Torrens, 13. Ryan Nell (kaptein), 12. Christopher Bosch, 11. Danwel Demas, 10. Adriaan Carelse, 9. Marnus Hugo, 8. Zandré Jordaan (onderkaptein), 7. Shaun McDonald, 6. Shaun Adendorff, 5. Okkie van Zyl, 4. Hanno Kitshoff, 3. Basil Short, 2. Chadley Wenn, 1. Francois Hanekom. Bank: 16. JC Genade, 17. SP Wessels, 18. Keenan Cronjé, 19. Wayne Wilschut, 20. Jovelian de Koker, 21. Edwin Sass, 22. Gavin Hauptfleisch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.