Twee breiers uit SA se spanne wen Euro-toetse

Twee afrigters uit Suid-Afrika se spanne het Saterdag hul wedstryde in die reekse van Rugby Europa gewen.

In Praag het Phil Pretorius, ʼn gewese afrigter van die Bulls, se Tsjegge met 35-21 teen Moldawië gewen. Die Moldawiërs was rustyd met 7-6 voor.

Jiřί Pantůček, die Tsjeggiese buitesenter, het 25 van die wenspan se punte aangeteken. Hy het twee drieë gedruk, drie verdoel en met drie strafdoele geslaag.

Dit was die laaste kragmeting van die seisoen om die Rugby Europa-trofee, en beteken Tsjeggië eindig derde ná Portugal en Nederland in dié reeks.

♦ Litaue, wat sedert 2014 deur Ntando Manyosha afgerig word, het in Esztergom, Hongarye, die tuisspan met 29-25 geklop nadat die besoekers rustyd reeds met 17-6 voorgeloop het.

Die Litauers is onoorwonne ná drie wedstryde in Afdeling 1 Noord, en die Hongare het tot dusver al drie hulle s’n verloor.

Die verloorders, wat ʼn hele 37 plekke onder Litaue op die wêreldranglys is, het in die tweede helfte merkwaardig teruggeveg.

Manyosha het Curriebekerrugby vir Grens gespeel, en sy afrigting in die KwaZulu-Natalse ontwikkelingstruktuur geslyp voordat hy ʼn ruk lank in Engeland afgerig het.

♦ In Afdeling 2 Suid het Serwië vir Slowakye met 50-24 in Pieštany, Slowakye, in die stryd van die agterosse verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.