Twee Bus-burgers en ‘n Ollie-burger asseblief

Busburger. (Foto: Stuff.co.za)

Die Bus-burger. (Foto: Stuff.co.za)

Wat is nou lekkerder as om aan ‘n smaaklike burger weg te val?

In die Nieu-Seelandse hoofstad, Wellington, het een van sy gewildste kroeë,  die Green Man’s Pub, `n nuwe burger-skepping na die makrovleuel Julian Savea vernoem.

Savea staan onder ondersteuners as “Die Bus” bekend, want wanneer dié stormramvleuel op sy teenstanders afpeil, probeer hy hulle nie systap nie, hy hol oor hulle.

Dan jil sy spanmaats, pêlle en die uitasem-kommentators soos Justin Marshall: “Die bus is vol”! Dis hoekom dié Wellingtonse burger die “Bus-burger” heet.

Volgens stuff.co.nz het Savea dit nog nie geproe nie, want Savea se vrou, Fatima, is `n Moslem, en dis hoekom hy ook nie sy mond aan varkvleis sit nie.

Ollie le Roux (Foto: Twitter/inpho.ie)

Ollie le Roux (Foto: Twitter/inpho.ie)

Die burger bestaan juis uit stukkies gevlekte varkvleis en hoender wat in klapperolie gemarineer is. Dit word op `n slaaitjie, wat hoofsaaklik uit pynapplmoes en `n rissie-sous bestaan, op `n aaklige geel-en- swart-broodrolletjie (die Hurricanes se kleure) voorgesit. Die rolletjie word met inkvis-ink (swart) en borrie (geel) gekleur en dis genoeg om enige Suid-Afrikaner se eetlus net daar en dan te demp.

Jare gelede het een van die Suid-Afrika se voorste braai-restaurante vir Ollie le Roux in sy promosieveldtogte gebruik. Le Roux was baie lief vir die driedubbelle-kaasburger en wanneer die span Woensdae `n rusdag gehad het, het Le Roux `n hele paar daarvan verorber – dis nou as die afrigters in `n ander rigting gekyk het.

Die balvaardige Le Roux, wat in sy speeldae 136 kg geweeg het, maar net soos ‘n agterspeler kon swenk, neem nou aan ystermanbyeekomste deel.

Dit laat ‘n mens wonder of hy nog aan aan die Ollie-burger weglê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.