Twee Cheetahs vir spel in Pro14 vereer

Torsten van Jaarsveld, die beste haker in die Pro14. (Foto Facebook Vrystaat Rugby)

Die haker van die Cheetahs, Torsten van Jaarsveld, het in dié span se eerste seisoen in die Pro14-reeks sodanig uitgeblink dat hy in die Pro14-droomspan ingesluit is.

Die Cheetahs het ook ʼn tweede toekenning gekry. Hul losskakel Fred Zeilinga, is aangewys as die voorste skopper in die reeks onder dié wat 30 of meer kere pale toe gemik het.

Die voormalige losskakel van die Sharks het met 85,37% van sy pogings pale toe geslaag en het die Golden Boot-toekenning daarvoor ontvang.

Van Jaarsveld, wat sedert 2014 ook toetsrugby vir Namibië speel, is ʼn voormalige haker van die Pumas wat vanaf 2014 vir die Cheetahs en die Vrystaat Cheetahs gespeel het.

Hy is ʼn gebore Namibiër, hoewel hy aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria (dieselfde skool as Naas Botha en Uli Schmidt) skoolgegaan het.

Hy het tussen 2008 en 2013 in 73 wedstryde vir die Pumas gespeel en die twee Vrystaatse spanne by vele geleenthede aangevoer.

Van Jaarsveld het egter nou groener weivelde oorsee gaan soek en is vanaf die huidige Europese (2018/’19-seisoen) vir twee jaar by die Franse ProD2-span in Bayonne gekontrakteer.

Die kampioenspan Leinster, en Scarlets wat in die eindstryd teen Leinster verloor het, het elk vyf spelers in die Droomspan; Glasgow Wanderers het twee; en Edinburg en Ulster het, soos die Cheetahs, elk net een.

Die Droomspan, wat verskeie internasionale spelers insluit, is:

15 Blair Kinghorn (Edinburgh), 14 Jordan Larmour (Leinster), 13 Nick Grigg (Glasgow Warriors), 12 Haleigh Parkes (Scarlets), 11 James Lowe (Leinster), 10 Rhys Patchell (Scarlets), 9 John Cooney (Ulster), 8 Jack Conan (Leinster), 7 Callum Gibbins (Glasgow Warriors), 6 Aaron Shingler (Scarlets), 5 Tadhg Beirne (Scarlets), 4 Scott Fardy (Leinster), 3 Andrew Porter (Leinster), 2 Torsten van Jaarsveld (Cheetahs), 1 Rob Evans (Scarlets).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niel Mare ·

Terwyl Torsten n leerling – deesdae n leerder , aan HS Hendrik Verwoerd was , het hy benewens goeie rugby , ook die skool op die hokkieveld verteenwoordig en hom heel goed van sy taak gekwyt . Saam met die Nagtegaals , Horiusse en Viljoens .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.