Twee deur, drie spook om twee plekke

currie cup logo 2016.jpgDie Vrystaat Cheetahs speel sy halfeindstryd in die Curriebekerreeks tuis, die Blou Bulle het ook reeds vir die halfeind gekwalifiseer en die OP Kings, die Pumas en die Boland is nie meer in die uitspeelpermutasies nie.

Dit is die enigste sekerheid in die Curriebekerreeks waarvan die rondomtaliefase die naweek ten einde loop.

Teoreties kan Griekwas dit nog maak, maar die kanse is so gering dat dit eintlik nie eers ʼn kans is nie! As die WP minder as twee ligapunte in sy wedstryd op Nuweland teen die Boland verdien, en Sharks die Goue Leeus op Ellispark klop – en natuurlik dat Griekwas dan boonop vyf ligapunte in Bloemfontein  teen die onoorwonne Vrystaat verdien – is die Poubloues (net dalk) daar.

Met die Vrystaat en Bulle wat reeds gekwalifiseer het, is ʼn ontleding van die drie ander aanspraakmakers op die twee oorblywende halfeindplekke nogal interessant, soos ook die stryd om saam met die Vrystaat Cheetahs tuis te kan speel.

Blou Bulle

Die Blou Bulle is klaar in die halfeind. Of dit tuis sal wees, sal van die Goue Leeus afhang.

Trouens, die stryd tussen die Leeus en die Sharks Vrydagaand op Ellispark is die een wat al die aansprakmakers se kanse en tuisveldvoordeel grootliks kan beïnvloed.

Die Bulle is die enigste span wat reeds al agt sy bepalings afgehandel het en het 30 ligapunte.

Goue Leeus en Sharks

Die Sharks het 25 ligapunte. Wen die Sharks met ʼn bonuspunt teen die Leeus, is hulle tweede met ʼn beter punteverskil en die Bulle derde, albei met 30 ligapunte.

Gebeur dit, het die Leeus wel nog ʼn teoretiese kans om sy titel te verdedig. Daarvoor moet hy twee bonuspunte kry, vir vier drieë teen die beste verdedigers in die reeks en met sewe punte of minder verloor.

Dit sal die Leeus op 24 ligapunte te staan bring – een voor die Westelike Provinsie wat nou 23 punte het.

Maar ons het gesê die Leeus se kans is bloot teoreties as die Sharks wen, want die WP speel op Nuweland teen sy buurman, die Boland. Net ʼn enkele bonuspunt uit die kragmeting sal egter nie vir die WP genoeg wees nie, want sy droewige punteverskil skakel hom dan uit, selfs al is hy saam met die Leeus op 24 ligapunte.

Dit lyk egter uiters onwaarskynlik dat dit sal gebeur. Trouens, dit sal verbaas as die WP nie met vyf ligapunte van sy tuisveld stap nie.

Maar wat as die Leeus die Sharks klop? Kry hulle net vier punte vir die wen, staan hulle op 26 ligapunte. As die Sharks dan net een bonuspunt sou kry, is die twee gelyk en sal Saterdag se slagting in die Baai teen die Kings die Leeus op punteverskil laat deurdring, maar in derde plek na die Vrystaat en die Blou Bulle. (Maar die WP moet nie vergeet word nie …)

Kry die Sharks egter twee bonuspunte, vir vier drieë en ook oor hulle met sewe of minder punte verloor, staan hulle op 27 ligapunte. Dan moet die Leeus met ʼn bonuspunt wen en sal die punteverskil die res doen.

Dus: wen die Leeus met ʼn bonuspunt, is hulle in die halfeind.

Westelike Provinsie

Maar wat van die Westelike Provinsie? Vyf punte in die wedstryd teen die Boland sal hom op 28 plaas, en dan hang dit wéér van die uitslag van die Leeus-Sharks-wedstryd af waar hy op die puntelys klaarmaak.

Wen hy egter sonder die bonuspunt, kan dit wees dat die Leeus, die Sharks en die WP al drie op 27 ligapunte eindig. Dan is die WP uit die halfeind weens sy swakker punteverskil.

Die permutasies eindig egter nie daar nie. ʼn Gelykopuitslag bring nog ander moontlikhede!

Samevattend:
Die Bulle kan tweede of derde op die puntelys eindig.
Die WP kan derde, vierde of vyfde eindig
Die Leeus kan derde, vierde of vyfde eindig
Die Sharks kan tweede, derde, vierde of vyfde eindig

Soos dit sake nou staan (gespeel, ligapunte) –
Vrystaat         7          35
Blou Bulle     8          30
Sharks            7          25
WP                  7          23
Goue Leeus   7          22

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Vergelyk ‘n mens die Curriebeker met NZ se top 10 dan is dit duidelik waarom NZ-rugby so sterk is. Al vier die finaliste (ongeag wie dit is) sal sukkel om van die voorste NZ-spanne te klop.

Dit is jammer want die Curriebeker was nog altyd ‘n voedingsbron vir Springbokrugby en dit is duidelik dat spanne met die meeste verteenwoordigers in ‘n sukkelende Bokspan ook in die Curriebeker sukkel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.