Twee Du Preez-broers nie na Bokoefenkamp genooi

Twee van die drie Du Preez-Springbokbroers is nie na die uitgebreide Springbokoefenkamp vir die Rugbykampioenskapreeks genooi wat Donderdag in Stellenbosch voortgesit word nie.

Benewens die losskakel Robert du Preez en sy agstemanbroer, Dan, wat albei in die toets teen Wallis gespeel het, is Chiliboy Rallepelle, Curwin Bosch en S’bu Nkosi (hy is beseer) van die Sharks ook nie na die oefenkamp genooi nie. Hulle het almal in verlede maand se toetse teen Wallis en Engeland gespeel.

Die Bokafrigter Rassie Erasmus het Woensdag ook twee “nuwe” spelers by die kamp, JD Schickerling en Cobus Wiese, vrygestel. Hulle sal nou saam met die Westelike Provinsie se Curriebekerspan voorberei.

Erasmus het egter nog agt spelers, almal Sharks, tot sy oefengroep op Stellenbosch bygevoeg by die spelers van die Bulls en Stormers, en die Sharks se Coenie Oosthuizen wat verlede week reeds op Stellenbosch begin oefen het.

Die Sharks se paadjie na Superrugby-glorie het Saterdag in Christchurch tot ʼn einde gekom toe hulle in die kwarteindstryd deur die Crusaders uitgeskakel is. Erasmus kon toe ook vir Thomas du Toit, Akker van der Merwe, Beast Mtawarira, Jean-Luc du Preez, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi en Lwazi Mvovo na die oefenkamp nooi wat Donderdag voortgesit word.

♦ Laasgenoemde se uitnodiging is noemenswaardig. Hy het reeds 17 toetse agter sy naam, is deur die Sharks van vleuel na heelagter verskuif waar hy dán in, dán uit die span was en waar hy die afgelope twee of drie seisoene dikwels as heelagter diens gedoen het.

Mvovo is reeds 32 jaar oud, maar is steeds vinnig, goed onder die hoë bal, het die ervaring van 17 toetse en twee nie-toetse in die Boktrui, en is uiters bestendig.

♦ Die oorsese spelers wat teen Engeland gespeel het, Faf de Klerk, Willie le Roux en Schalk Brits, en ander wat Erasmus mag nadertrek, is nie deel van die huidige oefengroep nie.

Die oefengroep soos dit nou daar uitsien:

Agterspelers
Lukhanyo Am, Damian de Allende, André Esterhuizen, Warrick Gelant, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Lwazi Mvovo, Embrose Papier, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Damian Willemse

Voorspelers
Jean-Luc du Preez, Pieter-Steph du Toit, Thomas du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Wilco Louw, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Salmaan Moerat, Beast Mtawarira, Sikhumbuzo Notshe, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, RG Snyman, Akker van der Merwe, Marco van Staden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Denise ·

Cry me a river dit is jou span jy kan die man in die maan ook n plek gee !!!!

Krulletjie ·

Wat maak Rassie met Damian de Allende in die span. Hoekom gebruik hy nie vir Combrinck en Coetzee van die Lions nie?

Henk Brand ·

Hierdie is ‘n oefengroep. Die ander 2 speel nog die Superugby.

Yankee ·

Ag komaan mense!! Dis nie asof hierdie ouens jul broers of kinders is nie!! Wees rustig.

nico k ·

Ek weet nie wat het die mense teen de Allende nie. Hy is sterk en vinnig. Ek sal nie Coetzee of Combrinck kies nie. Hulle verdediging is nie goed nie.

kas ·

Rassie se oefengroep bestaan uit Bulls,Sharks en Stormers.Hulle het die swakste gevaar in die kompetisie.Ons kan vergeet om die rugbykampionskap te wen en o ja die wereldbeker ook.Geen beter kaptein as Whiteley nie maar die kaptein is ‘n politieke keuse en verdien nie sy plek op sy huidige vorm nie.Dit is nie wat ek se nie hy het dit self gese

kas ·

Vir nico k wil ek graag net die volgende se,De elende hoort lankal nie meer daar nie.Plaas sy mede agterspelers onder druk met sy geskuins hardlopery.Hy kan nie die lyn breek soos wat verwag word van ‘n senter nie.En nico k as jy wakker word is jou koffie koud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.