Twee eindstryde ‘oorgespeel’

assupol nuut`n Mens kan maar sê twee provinsiale eindstryde word “oorgespeel” in die belangrikste kragmetings Saterdag in die eindstryde van die Noorderbonde se Assupolreeks op Loftus Versfeld in Pretoria.

In die A-afdeling spook Pretoria Polisie sake teen die Tukkies (Fezelas) uit; en in die B-afdeling die Northam Rhinos teen Pietersburg Noordelikes.

Die vertonings van Polisie en Northam het ook `n wyer betekenis deurdat albei hul onderskeie bonde vanjaar in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig.

♦ Die Tukkies se eerste span het Polisie verlede jaar 44-15 in die eindstryd van die Blou Bulle se Carltonliga geklop, en al is die Fezelas dié keer die Bobbies se teenstander (met die studente se keurbende wat aan die reeks om die Varsitybeker deelneem) sal die stryd nie minder intens wees nie.

Kragmetings tussen die Tukkies en Polisie tel deur die jare tussen die hoogtepunte van rugby in die hoofstad. Saterdag s’n behoort wéér `n stryd ten bloede te wees.

♦ Northam het Noordelikes verlede seisoen ná agt jaar as Limpopo kampioen onttroon. Die Rhinos het die eindstryd 37-22 gewen nadat die eerste probeerslag deur foutiewe spreiligte kortgenip is toe Noordelikes 24-17 voor was.

Albei spanne lyk goed op dreef en `n bowemate taai stryd kan ook hier verwag word. Enersyds het Noordelikes sy eer om te herstel; andersyds moet Northam sy Goue Bekerstatus regverdig.

♦ Dragons, `n nuweling vanjaar in die Blou Bulle se Carltonreeks, maak vroeg al sy stem dik met sowel sy tweede as sy derde span wat die eindstryde in die A-afdeling gehaal het. Hy speel in albei gevalle teen die Tukkies.

♦ `n Vierde Tukkiespan wat Saterdag in aksie is, is die o.21s wat teen sy portuur van die Universiteit van Johannesburg (UJ) (Goue Leeus) kragte meet.

♦ In die ander A-afdeling-eindstryd speel UJ o.20 (Goue Leeus) teen Tuine o.20 (Blou Bulle). Laasgenoemde se prestasie in die reeks laat die hoop opvlam vir die toekoms van die klub nadat sy eerste span kwaai in die reeks gesukkel het.

♦ Die NWU Pukke (Luiperds) en Ferro’s van Witbank (Pumas) spook sake in die B-afdeling vir tweede spanne uit; en die o.20-eindstryd word tussen die Universiteit van die Witwatersrand (Goue Leeus) en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (Blou Bulle) se o.21-spanne besleg.

Die program –

Loftus Versfeld B

12:00 Dragons III teen Tukkies III

13:30 Dragons II teen Tukkies II

15:10 Northam teen Noordelikes

17:00 Pretoria Polisie teen Tukkies (Fezelas)

Loftus Versfeld C

12:00 UJ o.20 teen Tuine o.20

13:30 NWU Pukke II teen Ferro’s II

15:10 Wits o.21 teen TUT o.21

17:00 UJ o.21 teen Tukkies o.21

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerry Gendall ·

Assupol kry nie aftrek nie!

As span soos Ferros en mdb slegs een game verloor is hulle uit, maak glad nie sin vir klub om dan aan so kompetisie deel te neem nie?

Rugby is ons lewe en ons probeer altyd beter doen vd spelers maar deur nie volhoubare liga te speel nie werk nie! Uitklop liga voor seisoen werk nie vir al die klubs nie, nou sit klubs sonder friendlies.

Gerry

Bobbies Ondersteuner ·

Ek dink die opset werk nie so lekker nie, Bobbies se derde span volgens die log het nie een wedstryd verloor nie, maar kon nie die finale haal nie, agv ‘n punte verskil, dit maak nie lekker sin nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.