Twee groot kanonne kry by Grant Khomoweek pak

Twee van die groot kanonne by die Grant Khomoweek wat Maandag by Grey Kollege in Bloemfontein begin het, is met die intrapslag verras.

Voorverlede jaar se wenner in die hoofwedstryd, die Goue Leeus, is deur Grens met 24-13 geskok, terwyl die Blou Bulle, verlede jaar se uitsoekspan, met 17-36 teen die Westelike Provinsie vasgeval het.

Die WP, wat die afgelope jare in die geheel gesien bo die ander unies by die skoleweke uittroon, is ná hierdie groot sege sekerlik die gunstelinge om weer die eindstryd te haal.

♦  Die Vrystaat het elf drieë teen Zimbabwe gedruk en met 71-0 gewen in ʼn wedstryd wat vir nie een van die twee spanne veel kon beteken het nie. Ian Small-Smith het drie keer gaan druk en Tiaan Jonker, Keeno Orlein, Tony Augus en Sonwabo Sokoyi twee keer elk.

♦  Die diepte van die gasheer Vrystaat is beklemtoon toe die Vrystaatse Vyftiental ná ʼn rustyd-agterstand van 3-13 met die Oostelike Provinsie afgereken het. Die telling was 24-21.

♦  Ook die WP se diepte was opvallend toe die WP XV met net een punt teen KwaZulu-Natal verloor het, 14-15.

♦  Die Griffons het net soveel soos die Vrystaat se uitsoekspan gebaljaar toe hulle die Grens-platteland met 69-13 geklop het. Keke Morabe en Mpho Ntsutle (drie drieë elk) en Rian Olivier (twee) het agt van die elf drieë gedruk.

Ander uitslae –

Limpopo Blou Bulle 48, Valke 19; SWD 39, Pumas 23; Namibië 31, Luiperds 23; Boland 17, Griekwas 14.

Onder 13-uitslae –

Limpopo Blou Bulle 15, Boland 14; Griekwas 21, Namibië 19; Grens 18, Pumas 15; SWD 17, Valke 14; Goue Leeus 23, KZN 14; OP 32, Luiperds 15; Zimbabwe 41, Grens-platteland 0; WP 71, Griffons 0; Blou Bulle 45, Vrystaat 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.