Twee individuele mylpale terwyl spanne om uitspeelplekke stoei

Die Boland Kavaliers se kaptein Zandré Jordaan speel in sy 100ste wedstryd vir die span. (Foto: Gallo Images)

Terwyl daar nog 12 spanne is, drie van hulle met ʼn feitlik niksseggende kans, wat die uitspeelrondes van die Supersportreeks kan haal, sal twee van die Boland Kavaliers se voorspelers Saterdag besonderse mylpale bereik.

Die 33-jarige haker Clemen Lewis, wat ʼn draai by die WP en die Blou Bulle gegooi het voordat hy sy buiging vir die Boland in 2005 gemaak het, speel Saterdag op Malmesbury teen die SWD Arende in sy 150ste wedstryd vir die Kavaliers; en die agsteman en kaptein Zandré Jordaan draf in sy 100ste wedstryd sedert 2009 vir die span uit. Hy was ondermeer lid van die eerste Matiespan wat in 2008 die Varsitybeker gewen het.

Twaalf jaar na sy buiging vir die Boland Kavaliers in 2005 draf die haker Clemen Lewis Saterdag die 150ste keer vir die span uit (Foto Gallo Images)

♦  Die voorlaaste ronde van die Supersportreeks wat Donderdag, Vrydag en Saterdag gespeel word, is vir verskeie spanne die laaste geleentheid om nog ʼn plek in die kwarteind van die reeks los te speel.

Met net die twee voorste spanne in elk van die drie groepe en die twee beste geplaaste derde spanne in die groepe, is daar nog 12 spanne wat wiskundiggesproke nog die agt kwarteindplekke kan vul.

Vir vier van dié spanne sal die meetsnoere mooi moet val en kan hulle nie net op eie vermoëns staat maak nie, maar moet hulle duim vashou dat van hul groepsgenote onverwagte uitslae behaal.

In die gevalle van die Welwitchias, die Griffons en die SWD Arende is daar egter geen hoop meer nie.

♦  In die Noorde se groep is die Pumas, wat derde op die punteleer is met 19 punte, oënskynlik uit die prentjie om die eerste twee plekke. Die Blou Bulle het 27 punte (sewe wedstryde) en die Goue Leeus 26 punte (na ses wedstryde.)

Die Pumas speel die naweek in Windhoek teen die Welwitchias en vyf ligapunte is feitlik verseker. Dan moet die Pumas tuis nog teen die Valke speel, wat wisselvallig is en tussen baie gevaarlik en teleurstellend wissel.

Die Goue Leeus speel die naweek teen die einste Valke in Kemptonpark. Daarna lê die Bulls ook nog voor.

Dit is moontlik, maar seker onwaarskynlik, dat die Pumas bo-aan die Noordgroep sal eindig.

♦  In die Sentraalgroep is Griekwas se tuiswedstryd teen die Sharks baie belangrik. Wen Griekwas, eindig hy eerste in die groep. Aanstaande naweek is die ander twee aanspraakmakers, die Vrystaat Cheetahs en die Sharks slaags in ʼn stryd om tweede en dus ʼn gewaarborgde plek in die uitspeelronde.

♦  Die WP het oënskynlik, soos in die Suidafdeling van die ou Vodacombeker, dit die maklikste gehad.

Al vier die ander spanne in die afdeling het ʼn negatiewe punteverskil, iets wat nie by die Sentraal- of Noordgroep voorkom het nie.

Die Grens Bulldogs kan nog wiskundig deur die OP Kings verbygesteek word, maar behoort hulle kragmeting Donderdag in Oos-Londen te wen – en dan is Grens se tweede plek feitlik verseker.

Boland, wat vierde op die punteleer is, het ʼn aan-af-seisoen beleef. Hulle speel oor die volgende twee naweke tuis teen die SWD Arende en die OK Kings en kan dalk insluip in die tweede plek in die groep. Die naweek se wedstryd tussen die Arende en die Bullsdogs kan ʼn in dié geval die deurslag gee.

Die naweek se bepalings –

Donderdag
17:00 – Grens Bulldogs vs OP Kings, Oos-Londen
19:00 – Griekwas vs Sharks, Kimberley

Vrydag
14:30 – Valke vs Goue Leeus, Kempton Park
18:00 – Luiperds vs Griffons, Potchefstroom

Saterdag
13:00 – Welwitchias vs Pumas, Windhoek
15:00 – Boland Kavaliers vs SWD Arende, Malmesbury

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.