Twee kampioene in klubreekse onttroon

College Rovers se Paddy Doyle (voorsitter), Derek Heiberg (hoofafrigter), Beans Bateman (direkteur van afrigting), Jeff Harper and Kerwin Jean Luc (spanbestuurder) met die Murraybeker. (Foto: Verskaf)

College Rovers se Paddy Doyle (voorsitter), Derek Heiberg (hoofafrigter), Beans Bateman (direkteur van afrigting), Jeff Harper en Kerwin Jean Luc (spanbestuurder) met die Murraybeker. (Foto: Verskaf)

Twee ligakampioene is Saterdag in die eindstryde van provinsiale klubreekse van hul titels gestroop.

Die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) het ʼn nuwe tuiste gekry nadat die NWU Pukke die Universiteit van Johannesburg (UJ) op Wits se veld in die Goudstad met 27-23 geklop het.

Die Natalse Moorbekerkampioen (Premierliga), College Rovers, se beker(s) loop oor nadat hy in die bond se uitklopreeks die Murraybeker met ʼn sege van 24-13 by Durban Collegians afgeneem het.

UJ se tweede span het die bordjies verhang deur die Pukke met 43-19 te laat les opsê, en laasgenoemde se derde span het Raiders met 13-7 getroef.

Wat die Bailybeker betref, het Germiston Simmer, wat die Senior Grootuitdaagbeker (SGU) in die vorige ligabedeling gewen het, Alberton met 52-10 op UJ se Wessportterrein oorrompel.

Johannesburg Polisie het die afdelings vir tweede en derde spanne ingepalm deur onderskeidelik vir Alberton met 27-22 en Harlequins met 27-10 te klop.

Die Tonne het albei onder-ouderdomstitels gewen, iets wat hopelik veel goeds vir die toekoms van die klub belowe. Sy o.21-span het Unie met 18-7 geklop; en die o.19’s het by verstek gewen nadat Simmer onttrek het.

Eldoronians van Eldoradopark is die nuwe houer van die SGU-beker nadat die klub ʼn klompie brak seisoene beleef het. Hy het Tshuma Stingers van Midrand met 26-19 ondergesit.

Alexandra is die o.20-kampioen nadat hy Kagiso met 12-0 verslaan het.

KZNRU

Rovers het naas die Murraybeker ook die Peter Taylorbeker (Premierreserweliga) gewen deur Collegians met 36-27 te oorheers.

Hillcrest het die Junior Murraybeker (Eerste Liga) behou deur Vryheid met 45-26 te verslaan; en Westville Old Boys (WOB) het die Keith Parkinsonbeker (Eerste Reserweliga) gewen met ʼn sege van 24-19 oor Newcastle Highlanders.

Die Ladysmith Bulldogs het die Findlaybeker (Derde Liga) verower deur Kokstad met 31-15 baas te raak.

Collegians se o.20A-span het die Basil Medwaybeker in sy kragmeting teen Rovers met 44-24 gebuit; en sy o.20B-span die DW Geddiebeker nadat hy met 29-13 met Varsity College afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.