Twee keerpunte kelder die Pumas

currie cup logo 2016.jpgTwee keerpunte, een binne die laaste drie minute voor rustyd, en toe na ʼn fratsdrie sewe minute voor die einde, het Saterdagaand aan Griekwas ʼn naelskraap-oorwinning van 41-35 oor die Pumas in Nelspruit besorg.

Miskien het Griekwas die Curriebeker-oorwinning net-net verdien. Hulle agterlyn was deurgaans gevaarliker en in albei helftes het hulle voorspelers op die regte tye  wakker geskrik en genoeg van die besit en gebied gehad.

ʼn Pluimpie vir die Pumas is die wyse waarop hulle, wanneer hulle binne afstand van ʼn drie gekom het, die besoekers al hulle dae gegee het en ook punte behaal het.

Die eerste keerpunt, nadat die Pumas verdiend 18-13 voor was, het die rustydtelling binne net drie minute na 23-18 in Griekwas se guns geneem. Eers was dit Clinton Swart wat ʼn strafdoel oorgeskop het met net drie minute speeltyd oor, en toe het die lewendige skrumskakel van Griekwas, Rudi van Rooyen gaan druk na goeie werk van die Griekwas-pak.

Die tweede helfte was kwalik aan die gang toe gaan druk Alshaun Bock, wat die hele aand moeilik was as die bal na sy kant gekom het. Swart se doelskop het dit skielik 30-18 gemaak.

Maar die Pumas het teruggeveg. Tien minute later het Marnus Schoeman teen sy ou span gaan druk en nog vyf minute later was dit Frankie Herne se beurt, met Francois Brummer wat albei vervyf het.

Die Pumas was toe weer voor, 32-30, en Griekwas moes 12 minute vir ʼn Swart-strafdoel wag om weer voor te loop, 33-32. Met sewe minute speeltyd oor, het hy wéér so gemaak en was Griekwas 36-32 voor.

Die Pumas moes gaan druk om te wen. Hulle het afgeskop, die bal in die hande gekry met goeie ondersteuning na Griekwas se doellyn beweeg. In die beweging het Wendal Wehr letterlik die bal uit ʼn Pumas-aanvaller se hande gepluk, steelkant om die losskrum gebreek en op wat niks meer as ʼn drafstap was nie, sowat 65 meter afgelê en gaan druk.

Pumas het toe tien punte gesoek om te wen. Brummer se strafskop het hulle met drie minute oor laat naderkruip.

Maar twee bonuspunte, een vir vier drieë en een vir met sewe of minder punte verloor, is al wat Renaldo Botha se span kon inoes.

Griekwas het ook vier drieë gedruk en hulle kry dus vyf punte op die puntelys by.

Puntemakers –

Pumas (18) 35: Drieë: Marnus Schoeman, JP Lewis, Jannie Stander, Frankie Herne. Doelskoppe: Francois Brummer 3. Strafdoele: Brummer 3.
Griekwas (23) 41: Drieë: Rudi van Rooyen  2, Alshaun Bock, Wendal Wehr. Doelskoppe: Clinton Swart 3. Strafdoele: Swart 5

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.