Twee kwaai botsings in Super 12-liga te wagte

ooskaapwapenTwee kwaai botsings kan Saterdag verwag word wanneer die Oos-Kaapse Super 12-reeks se voorlaaste ronde voor die uitspeelstryde afgehandel word.

In Groep A kan die kragmeting tussen Park (Port Elizabeth) en Gardens (Uitenhage), die huidige kampioen, die vonke laat spat.
Albei spanne het dusver twee van hul drie wedstryde gewen en het 11 ligapunte, maar Gardens spog met `n heelwat beter batige puntesaldo.

As titelhouer, en ook die houer van die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagbeker, moet die Uitenhaagse span die gunsteling wees. Park het egter die tuisveldvoordeel op Londtpark.

In Groep B sal die aandag veral op die wedstryd tussen Oos-Londen Polisie en Port Elizabeth Harlequins op Polisiepark gevestig wees.

Polisie is die Grensklub wat dusver die beste vaar, maar Quins het sedert verlede seisoen getoon hy is nie `n katjie om sonder handskoene te pak nie, en het die OP se Grootuitdaageindstryd gehaal.

Polisie het twee van sy vier wedstryde dusver gewen, en Quins een uit drie, maar laasgenoemde is net vier ligapunte agter Polisie en dit kan net die geelwortel wees wat hy nodig het.

In die ander wedstryde in Groep A behoort die onoorwonne voorloper Spring Rose (New Brighton) vir Cambridge (Oos-Londen) maklik te klop; en behoort Swallows (Mdantsane) die agteros, Breakers (Queenstown), hok te slaan.

In Groep B is daar behalwe eer min op die spel vir die agterosse, die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) en Despatch, wat mekaar die stryd aansê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.