Twee lekker derbies en sukkelende Bulls in die kollig

Twee plaaslike derbies en die sukkelende Bulls sal Saterdag die Superrugby-fokus in Suid-Afrika wees.

Die Bulls speel in Hamilton teen die Chiefs (08:35) wat na vier wedstryde nog nie verloor het nie en het die onbenydenswaardige taak om na 11 opeenvolgende neerlae in Nieu-Seeland sake om te draai.

Op Nuweland (15:05) speel die Stormers sonder hul voorste drie  senters Juan de Jongh, Damian Allende en Huw Jones teen die Cheetahs en die Lions kom op Ellispark teen die Sharks te staan (17:15).

♦  Hoekom die Bulls nie ʼn bal kan vang en aangee wanneer dit saak maak nie weet nugter. En met die groot leemtes op die verdediging,  moet hulle darem nou seker begin regmaak het wat skort.

Op papier moes die Bulls baie naby aan vier uit vier tot dusver gewen het. Dit is egter net een uit vier.

Verdediging en die vaart na die losbal is die groot probleme. Wie weet, dalk is die insluiting van Arno Botha in die plek van die beseerde Hanro Liebenberg die oplossing.

Liebenberg werk hom dood vir sy span, maar dit maak nie op vir sy gebrek aan aanvoeling wanneer die bal wyd gespeel word nie.

Die Chiefs behoort te wen. Selfs al verbeter die Bulls 100% op hulle tweede helfte teen die Blues verlede week, gaan dit nie genoeg wees nie.

♦  Op Nuweland is dit feitlik ʼn geval van reg of weg vir die Cheetahs. Verloor hulle teen die Stormers, is laasgenoemde reeds vroeg-vroeg in die reeks op pad om die voorste span in een van die twee SA groepe van die Superreeks te wees, en die Cheetahs onder geweldige druk om nie die swakste SA span te wees nie.

Die Cheetahs se kaptein, die Springbok Swys Venter, speel saam met ʼn eintlike losskakel Niel Marais op senter presies waar die Stormers drie toetsspelers verloor het. Maar die vraag is of die dryfwerk op binnesenter van De Allende en die jarelange onoortuigende spel van De Jongh regtig gemis gaan word. Jones se vernuwende invloed sal wel gemis word.

EW Viljoen en Dan du Plessis bring ʼn verfrissende nuwigheid met vaardigheid en die vermoë om te versprei en geleenthede aan te gryp in die middelveld, en die senterstryd kan ʼn hoogtepunt wees.

Die jong nommer ses van die WP, Cobus Wiese, sal uitvind dat Paul Schoeman ʼn gedugte teenstander is, en ondanks die terugkeer van Sergeal Petersen op die een vleuel en die goeie vertonings van Raymond Rhule die seisoen aan die ander kant, sal die lekker rugby van die Vrystaters nie bestand wees teen die tuisspan se beter gehalte onder veral die vaste vyf nie.

♦ Die Lions speel tuis teen die Sharks, wat vanjaar besig is om in ʼn gedugte eenheid te ontwikkel.

Dat die manne van Durban genoeg talent het om die Lions, wat weer begin lyk na verlede jaar se span te stuit, is te betwyfel – behalwe as die Lions weer soos die Kings voortploeter.

Die aandag sal op die Sharks se jong losskakel Curwin Bosch wees. Goeie besit kan hom laat baljaar, maar hy sal teen ʼn meer gedugte pak as die Cheetahs hierdie keer swakker bal kry. Cobus Reinach het die taak om hom te beskerm as die besit nie waffers is nie.

Voorlangs sal die stryd tussen die slotte en die voorrye van die twee spanne baie interessant wees – en die tweeling Dan en Jean Luc du Plessis sal hulle hande vol hê teen Ruan Ackermann wat nou volwassenheid op die vlak begin bereik, Jaco Kriel en Warren Whiteley, met die Sharks se kaptein Tera Mtembu wat nog nooit werklik op die vlak oortuig het nie.

Spanne:

Chiefs vs Bulls, Hamilton, 08:35

Chiefs: 15 Damian McKenzie, 14 Shaun Stevenson, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Johnny Faauli, 11 James Lowe, 10 Aaron Cruden (mede-kaptein), 9 Tawera Kerr-Barlow, 8 Michael Leitch, 7 Sam Cane (mede-kaptein), 6 Liam Messam, 5 Brodie Retallick, 4 Dominic Bird, 3 Nepo Laulala, 2 Hika Elliot, 1 Siegfried Fisi’ihoi. Bank: 16 Brayden Mitchell, 17 Kane Hames, 18 Atu Moli, 19 Taleni Seu, 20 Mitchell Karpik, 21 Finlay Christie, 22 Stephen Donald, 23 Solomon Alaimalo
Bulls:
15 Jesse Kriel, 14 Travis Ismaiel, 13 Jan Serfontein, 12 Burger Odendaal, 11Jamba Ulengo, 10 Handré Pollard, 9 Rudy Paige, 8 Arno Botha, 7 Nick de Jager, 6 Ruan Steenkamp, 5 Lood de Jager, 4 RG Snyman, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Pierre Schoeman Bank:  16 Edgar Marutlulle, 17 Lizo Gqoboka, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Jason Jenkins, 20 Jannes Kirsten, 21 Piet van Zyl, 22 Tian Schoeman, 23 Warrick Gelant.

Stormers vs Cheetahs, Nuweland, 15:05

Stormers: 15 SP Marais, 14 Cheslin Kolbe, 13 EW Viljoen, 12 Dan du Plessis, 11 Dillyn Leyds, 10 Robert du Preez, 9 Jano Vermaak, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Siya Kolisi (kapt.), 6 Cobus Wiese, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth , 3 Frans Malherbe, 2 Bongi Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Caylib Oosthuizen, 18 Oliver Kebble, 19 Chris van Zyl, 20 Nizaam Carr, 21 Dewaldt Duvenage, 22 Kurt Coleman, 23 Dan Kriel.
Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 Sergeal Petersen, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Niel Marais, 11 Raymond Rhule, 10 Fred Zeilinga, 9 Shaun Venter, 8 Henco Venter, 7 Teboho Mohoje, 6 Paul Schoeman, 5 Francois Uys, 4 Armandt Koster, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Charles Marais. Bank: 16 Elandré Huggett, 17 Retshegofaditswe Nche 18 Tom Botha, 19 Carl Wegner, 20 Niell Jordaan, 21 Tian Meyer, 22 Nico Lee, 23 Luther Obi.

Lions vs Sharks, Ellispark, 17:15

Lions: 15 Andries Coetzee, 14 Madosh Tambwe, 13 Harold Vorster, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley (kapt.), 7 Ruan Ackermann, 6 Jaco Kriel, 5 Franco Mostert, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Corné Fourie, 18 Hencus van Wyk, 19 Lourens Erasmus, 20 Kwagga Smith, 21 Ross Cronjé, 22 Jacques Nel, 23 Dillon Smit.
Sharks: 15 Garth April, 14 Kobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 Andre Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Curwin Bosch, 9 Cobus Reinach, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Tera Mtembu (kapt.), 5 Ruan Botha, 4 Etienne Oosthuizen, 3 Coenie Oosthuizen, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Franco Marais, 17 Juan Schoeman, 18 Lourens Adriaanse, 19 Stephan Lewies, 20 Jacques Vermeulen, 21 Michael Claassens, 22 Inny Radebe, 23 Jeremy Ward

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.