Twee opperste verrassings en GB is wawyd oop

QBR se slot Tinus van Wyk laat Vaal Reefs platvoet op die grond in ʼn lynstaan. (Foto: Heinrich Schulze)

Saterdag se Goue Bekerrugby het twee opperste verrassings opgelewer en getoon dat vanjaar jaar se reeks wawyd oop is, en op ʼn spannende einde afstuur.

In verskeie gevalle is die rustydvoorsprong deur die agteros met ʼn indrukwekkende terugvegpoging omgekeer.

Die skok der skokke is die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), se nederlaag van 29-32 teen Sasol in Secunda.

Die waarskuwingsklok het verlede week op Rustenburg al gelui, maar die Sasol-sege kom tóg erg onverwags.

Impala het rustyd met 22-15 voorgeloop, maar die tuisspan het die bordjies in die tweede helfte verhang.

Dan het Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) vir ʼn bykans ewe groot verrassing gesorg toe hy Old Georgians (Zimbabwe) op Northam oortuigend met 45-26 geklop het.

Ook in hierdie geval het die verloorder rustyd met 20-16 voorgeloop.

Die Rhinos het verlede jaar nog reserweligarugby gespeel, en OG het in die eerste weekronde die Goue Leeus se kampioen, Raiders, met mening opgedons.

Die Bosvelders se hoofafrigter, Flip de Kock, was duidelik nie met ydel praatjies doenig toe hy vroeër aan Pale Toe! gesê het die span mik na die uitspeelrondes nie.

Stemme dik gemaak

Drie van die spanne wat Saterdag die eerste keer in aksie was het, insgelyks hul stemme dik gemaak.

Die Bloue Bulle se Quins-Bobbies-rugby (QR) het Vaal Reefs (Luiperds) in Pretoria behoorlik opgedreun om met 54-10 te wen (rustyd 19-3).

Heinrich Schulze, ʼn beriggewer van Pale Toe!, laat weet Vaal Reefs het sy man goed in die vaste fasette gestaan, en dikwels die QBR-skrum in trurat gehad, maar sy agterlyn se hantering was by tye swak en albei vleuels het kans gehad om in die hoeke te druk, wat hulle nie afgerond het nie.

“QBR se skakelpaar, Sima Yafele en Morné Hugo, was uitstekend en veral die losskakel, Hugo, het Vaal Reefs dikwels met lang lynskoppe ver teruggedryf.

“In die laaste tien minute het QBR amok gemaak, en het Bushy Erasmus (linkervleuel) ná lang lopies langs die oorkantste kantlyn af twee drieë gedruk – bykomend tot sy ander drie vroeër in die wedstryd.”

Diep gegrawe

Vereeniging (Valke) het in Bloemfontein met 38-25 teen die plaaslike Polisie (Vrystaat) gewen.

Hy moes diep grawe nadat die Bobbies rustyd gerieflik met 25-10 voor was.

In George het die plaaslike Progress (Suidwestelike Distrikte) vir Tygerberg (Westelike Provinsie) in die verwagte taai stryd met 17-15 getroef.

Die besoekers was rustyd met 15-10 voor, maar Progress se wendoel was die enigste punte wat in die tweede helfte aangeteken is.

Verlede jaar se naaswenner, Valsbaai (WP), het Sishen (Griekwas) op Kathu met 35-25 geklop (rustyd 20-6); en die Wellingtonse suiker “teen ʼn trippens die pond”, was streepsuiker vir Western Suburbs (Namibië) toe Roses United (Boland) hom met 43-24 gelooi het (rustyd 24-5).

Die puntemakers –

QBR 54 (19) – Drieë: Johan Pieterse, Ian van Deventer, Bushy Erasmus (3), Johan Grobler (2), Christo de Jager. Doelskoppe: Morné Hugo (7).
Vaal Reefs 10 (3) – Drie: Danie Crafford. Doelskop: Riandré Vermaak. Strafdoel: Riandré Vermaak.

Polisie 32 (25) – Drieë: Dougie Hellmuth (2), Pieter Faber, Frankie Ferreira. Doelskoppe: Meyer van Tonder (3). Strafdoele: Meyer van Tonder (2).
Vereeniging 48 (10) – Drieë: De Wet van Wyk, Ricky Menezes (2), Caswell Koza (2), Marchant Genis, Donovan Venter. Doelskoppe: Erjee Heenop (2), Andy Huysamen (3). Strafdoel: Erjee Heenop.

Progress (George) 17 (10) – Drieë: Andre Bernardo, Chumani Kema, Fizell Fredericks. Doelskop: Jade Roelfse.
Tygerberg 15 (15) – Drieë: Ricardo Cornelius, Tyron Scholtz. Doelskop: Deon Taljaard. Strafdoel: Deon Taljaard.

Roses United 43 (22) – Driee: Lamelle Maralack, Junaid Cassiem, Percival Williams, Rowan Ranna (2), Tyrone Abelse. Doelskoppe: Percival Williams (4), Damian Engeldoe. Strafdoel: Percival Williams.
Western Suburbs 24 (5) – Driee: Justin Nel, Nikin Cloete (2), Gino Wilson. Doelskoppe: Justin Nel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.