Twee SA spelers van die wedstryd in die vreemde

Twee Suid-Afrikaners is in die jongste klubrugby in die vreemde as spelers van die wedstryd bekroon.

Hendrik Mulder (losskakel), ʼn gewese o.21-speler van die Goue Leeus, was die speler van die wedstryd in ʼn kragmeting in die Roemeense Superliga tussen Dinamo București en die Universiteit Cluj.

Benewens knap spel, het hy 10 punte met twee doelskoppe en twee strafdoele tot die gelykop uitslag van 25-25 bygedra.

Mulder het egter misluk met die laaste doelskop, wat die uitslag in sy span se guns kon beklink.

Italiaanse Top12-liga

♦ ʼn Knap vertoning deur ʼn gewese Curriebeker-speler van die eertydse OP Kings, het hom die toekenning as speler van die wedstryd in die nuwe Italiaanse Top12-liga besorg.

Kayle van Zyl (heelagter) het ook een van Calvisano se drieë in sy oorwinning van 35-10 oor I Medicei gedruk.

Die senior Italiaanse reeks, vroeër die Super10-liga, is met twee spanne uitgebrei, en staan nou as die Top12-liga bekend.

Een van die nuwelinge in die reeks, Valsugana, word deur die gewese Bolandse skrumskakel Polla Roux afgerig.

Engelse Kampioenskap

♦ Pat Howard (binnesenter) het ʼn drie vir Ealing Trailfinders in sy sege van 38-22 oor Doncaster in die Engelse Kampioenskap gedruk.

Hy het voorheen SA o.20 en die Stormers verteenwoordig.

♦ Brendan Cope, wat o.21-rugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Yorkshire Carnegie behaal teen Nottingham, wat die wedstryd met 36-17 gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.