Twee SA stutte in Skotland se jaareindgroep

WP Nel, een van die twee Suid-Afrikaanse stutte in Skotland se groep vir die jaareindtoer. (Foto: Scottish Rugby)

Alan Dell, wat verlede jaar saam met die Britse en Ierse Leeus getoer het maar nie in ʼn toets gespeel het nie, en WP Nel, is twee Suid-Afrikaanse stutte in die Skotse jaareindgroep van 40.

Skotland speel in hul derde wedstryd op 18 November teen Suid-Afrika in die derde van die Springbokke se vier toerwedstryde.

Skotland sal vir hul eerste wedstryd, teen Wallis op 4 November, nie op volle sterkte wees nie omdat nege van hul spelers in die Engelse Premierliga speel en hierdie toets, soos die Springbokke s’n die volgende dag teen Engeland, buite die toetsvenster val.

Wallis se toetsvenster-probleem is heelwat minder, wat beteken dat die Skotte met ʼn agterstand sal wegspring.

Terloops, 16 van die spelers in die groep speel vir Edinburgh, een van die spanne in die Pro14-reeks waarin die Cheetahs en die Southern Kings speel.

WP Nel, wat soos Dell vir Edinburgh speel, het reeds 22 toetse agter die rug. Dit sou ongetwyfeld meer gewees het, maar hy het weens ʼn ernstige nekbesering 2016 se Junietoetse en die Sesnasies-reeks in 2017 misgeloop. Met sy terugkeer in Junie 2017 het hy sy arm in sy eerste toets, teen Samoa, gebreek en het eers weer in die Sesnasies-reeks in 2018 toetsrugby gespeel.

Hy het vir die WP en Boland gespeel voordat hy in 4 wedstryde vir die Cheetahs in die Superrugby-reeks uitgedraf het.

Dell, wat tussen 2012-’14 in 11 Curriebeker-wedstryde vir die Sharks en in 2012 ook vir die Junior Springbokke gespeek het, het reeds 38 wedstryde vir Edinburgh gespeel. Die eerste van sy 13 toetse teen Skotland was in 2016.

Daar is ook ʼn Nieu-Seelander, Blade Thomson, en ʼn Australiër, Sam Johnson, in die groep.

Spelers wat nie saam met die span na Noord-Amerika getoer het nie omdat hulle ʼn ruskans gekry het of omdat hulle weens die toetsvensterreël nie gekies kon word nie, sluit Alex Dunbar, Jonny Gray, Huw Jones, Greig Laidlaw, Sean Maitland, WP Nel, Gordon Reid, Finn Russell, Tommy Seymour, Ryan Wilson en Hamish Watson in.

Die Skotte se Britse en Ierse Leeus-heelagter Stuart Hogg en die ervare slot Richie Grey (65 toetse) is weens beserings van die spelers wat nie beskikbaar is nie.

Skotland se groep van 40 ‒

Voorspelers
Alex Allan (Glasgow Warriors), Simon Berghan (Edinburgh), Magnus Bradbury (Edinburgh), Fraser Brown (Glasgow Warriors), Allan Dell (Edinburgh), David Denton (Leicester Tigers), Matt Fagerson (Glasgow Warriors), Ross Ford (Edinburgh), Grant Gilchrist (Edinburgh), Jonny Gray (Glasgow Warriors), Rob Harley (Glasgow Warriors), Murray McCallum (Edinburgh), Stuart McInally (Edinburgh), Willem Nel (Edinburgh), Gordon Reid (London Irish), Jamie Ritchie (Edinburgh), Sam Skinner (Exeter Chiefs), Blade Thomson (Scarlets), Ben Toolis (Edinburgh), George Turner (Glasgow Warriors), Hamish Watson (Edinburgh), Ryan Wilson (Glasgow Warriors).

Agterspelers
Alex Dunbar (Glasgow Warriors), Dougie Fife (Edinburgh), Chris Harris (Newcastle Falcons), Adam Hastings (Glasgow Warriors), George Horne (Glasgow Warriors), Pete Horne (Glasgow Warriors), Sam Johnson (Glasgow Warriors), Huw Jones (Glasgow Warriors), Lee Jones (Glasgow Warriors), Blair Kinghorn (Edinburgh), Greig Laidlaw (Clermont Auvergne), Sean Maitland (Saracens), Byron McGuigan (Sale Sharks), Ali Price (Glasgow Warriors), Henry Pyrgos (Edinburgh), Finn Russell (Racing 92), Matt Scott (Edinburgh), Tommy Seymour (Glasgow Warriors).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.