Twee skokke wag op die Springbok-ondersteuners

Dis genoeg om jou in jou graanvlokkies te laat verstik.

Ná die vreugde van Saterdag se vertoning in die Rugbykampioenskap toe die All Blacks met 25-24 op Nuweland teen die Springbokke deurgeskraap het, het die wond weer oopgebars en is die bloeding nog nie gekeer nie.

Skok nommer een: die Bokke gaan na die vyfde plek op Wêreldrugby se ranglys afskuif. Dit word eers Maandag aangekondig, maar ons het reeds die nodige sommetjies gedoen.

Skok nommer twee: die Wallabies het nie net bo die Bokke op die wêreldranglys ingeskuif nie, maar hulle ook uit die tweede posisie op die Rugbykampioenskap se puntelys gedwing.

Hoekom? Want die Wallabies het die Argentynse Poemas vroeg Sondagoggend met 37-20 in Mendoza geklop. Dit beteken dat die Wallabies genoeg gedoen het om bo die Iere (nou vierde) en Bokke (vyfde) op Wêreldrugby se puntelys in te skuif.

Hulle het daarmee ook die Bokke uit die tweede posisie (15 ligapunte teenoor 14) in die Rugbykampioenskap geskuif.

Eina … en dit nadat ons Saterdagaand die vreugdevure hoog laat brand het?

Maar hoe is dit moontlik? Maklik, want die Wallabies het twee keer teen die Bokke (27-27 en 23-23) gelykop gespeel en meer punte teen die Poemas aangeteken (37-20 en 45-20 teenoor die Bokke se wentellings van 41-23 en 37-15). Hulle het Sondagoggend vroeg ons tyd met die bonuspunt  teen die Poemas ook op die puntelys by die Bokke verby beweeg.

Die Wallabies (195) het ook meer punte as die Bokke (179) in die reeks aangeteken, meer drieë gedruk (25 teenoor 17), het meer punte teen die All Blacks aangeteken en minder afgestaan. Dit het gekom nadat hulle met 54-34 en 35-29  geklop is en die Bokke met 0-57 en 24-25 verloor het.

Onthou ook dat die Wallabies in Dunedin ook binne reikafstand van ʼn oorwinning oor die All Blacks was, net soos die Bokke Saterdagaand op Nuweland.

Ja, dit was lekker om die All Blacks byna bloedneus te gee, maar daar is nog ʼn lang paadjie om te stap, veral as dit die Wallabies is wat jou dag bederf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Hennie

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Freud ·

Reikafstand is so naby dat dit sekerlik ook ruikafstand kan wees na so 80 min se/sweet op die veld ?

Eish ·

Hul het toe nie die wit bande gedra soos Pieter Groenewald van die VF PLUS gevra het as blyk van solidariteit met die boere wat uitgeroei word deur plaas moorde nie.

Rica ·

En? Sou dit die Bokke laat wen het? Kan ons nie maar al hierdie kleinlikhede laat los nie, asb.

Swart Piet ·

Stem saam Eish, vir hulle en mense soos Rica is plaasmoorde seker nou nie so vreeslikke groote affere nie. Toe ek die berig se opskrif lees dog ek amper dat Allister Coetzee “gefire” is, maar ek neem aan dit sal seker nie maklik gebeur nie.

Hein ·

Vreude vure brand na n verloor ? Het ons standaard nou al so laag gedaal dat n verloor gevier word…..

voorlaaier ·

Stem saam… Sondag se Rapport!….”Trots is terug!!……Genade!……ONS HET VERLOOR!!!…………En julle is trots daarop???………..Ek skaam my dood!…….i eens trotse rugby land “vier” i verloor!!…..SIES!!!;!;;

wesley ·

Defnitief weet jul nie van die toestand van wereld rugby op die oomblik nie… NZ is tops, “by a country mile”! Net BI Leeus het geslaag om hul te klop, eerste keer in n baie baie lang tyd (in rugby tyd). Ons en Aus se rugby lyk glad nie so gesond nie, dit is maar die toestand van dinge wanneer jy die probleme in die gesig staar soos wat ons doen… Noorde lyk weer sterk want hul het minder politiese en geld probleme en kan goed vertoon, maar NZ sal hul nogsteeds ook in die grond ry, hul is net so ver voor by hul ook, kyk maar na die eindjaar toere wat kom… So om die by ver bes ter wereld so naby te druk op die telbord en oorhand te kry in baie aspekte van die spel, kan mens trots wees op so vertoning! Enige iemand wat rugby KEN soos dit nou staan sal saamstem, net die suurknolle sal mor,,,

Sputnik ·

Ja nee Hein… Dis n hartseer dag dat ons so bly raak oor n wen…. Tekens van die tyd…

Robert ·

Swak opskrif. Die feit dat die posisie nou 5de is maak nie verskil aan die moeilike pad wat die Bokke het in die volgende wereldbeker. As Aus gister teen ons gespeel het het hulle verseker verloor. Min spanne kom so goed terug van ‘n 57-0 afranseling om teen dieselfde span net net te verloor. Beide Aus en NZ speel met gevestigde spanne waar die Bokke nog rondtas vir die regte keuses, maar gee kans die regte kombinasies sal uitkom en dan gaan die span ‘n krag word!

Therese van Schalkwyk ·

Droom voort.
Die Wallabies is ‘n uitstekende, maar geensins gevestigde span nie. As Foley egter beter kon skop, het hulle die All Blacks in hul tweede kragmeting geklop.

alwyn burger ·

Luister mooi na Brendan Venter se woorde “wen is nie alles nie”. LW hy het nie gesê ons moet verloor nie. Hy het net Dr. Craven herhaal : “niks is groter as die spel nie”.Ons , met ons korttermynkoppies, het die telling nou al verhef bokant die spel. As ons die spel reg speel .sal die wen vanself kom. Soos die All Blacks. Hulle gaan weer wen ….en weer….en weer

Director Krennick ·

Op 21/10 speel die Wallabies in die 3de Bledisloe Toets in Brisbane teen die AB’s. Dit bied ‘n gulde geleentheid om hulle te klop – die enigste span wat dit hierdie jaar sou kon regkry indien dit gebeur (en na Dunedin is dit ‘n volslae moontlikheid). Voorts gaan hul dan na Japan vir ‘n toets daar voor die jaar eindig met ‘n toets teen Engeland – nog ‘n groter geleentheid vir ‘n betekenisvolle wen (en wie weet waar hul dan op die ranglys sal sit?). Met spelers soos Marika Koroibete (wat kan aanval en baie hard kan verdedig!!), ‘Hodgey’, Foley, Folau, Coleman, die immergroen Genia, Dempsey, Hooper en McMahon is die span besig om hul “eendjies” netjies in ‘n ry te kry vir 2019. Voorts kom Pocock in 2018 terug van sy ‘sabbatical’. Die span gaan nog BAIE sterk word.

Go Wallabies!!!!!!!!!!! Skryf hul af op jou eie risiko (meeste doen dit – tot hul spyt)!!

(**Wonder wat Suid-Afrikaanse rugby ondersteuners (en joernaliste van Maroela Media) teen die Wallabies het? Effense jaloesie???)

lollie ·

Watse skok? Dis NS…gaping… dan Engeland… en dan omtrent vier spanne van dieselfde gehalte ‘n kortkop agter Engeland (3 tot 6 maar basies van dieselfde gehalte). Ons sal goed doen as ons al ons toetse in Europa wen anders kan ons maklik weer terugsak na 6, 7)

Sjo! ·

Wil net weet alles nou te laat maar hoekom klou Ac so aan dreyer.??? Hoeveel strafskoppe het hy afgestaan??? Weereens!!! Wedstryd na wedstryd maar Ac speel hom !!!Kon ons die een dalk gewen het sonder daai strafskoppe?Wat n duidelikke en dadelikke verbetering toe hy vervang is! Jy kon mos duidelik sien in vorige wedstryde Ac dat hy sukkel ….jy kan mos dan maar net raai wat sou gebeur teen die All Blacks!!! Enige iemand vertel my asb hoekom die uwe Ac so aan dryer vasklou?

Sputnik ·

Ek stem saam. Dit gaan my verstand te bowe dat ons so gelukkig is met een speler om soveel strafskoppe af te staan? WTH ?

Chris ·

NZ het ‘n yslike afdag gehad gister – en dan dink die klompie amateurs wat hulself springbokke noem hulle is ewe skielik goed na die loesing twee weke gelede – wees gerus, daardie telling is die een wat wys hoe pateties hulle eintlik is.

Bernard ·

Haal die verduiwelde politiek en inmengery uit die sport uit dan kan Suid Afrika dalk weer bo-aan die lys wees. Tot dan moet Suid Afrikaanse rugbyondersteuners maar tevrede wees met wat hulle kry.

thelsa ·

Soos met ons skoolstesle waar die hoogtepunt nou die verlaging in standaarde is, so het dit ook na ons rugby deurgesif. Ons is nou trots op ons verloor. Dit word ons nuwe standaard. So word alle laagtepunte in hierdie land ons nuwe ‘benchmark’ Een van die dae lees ons dalk :’ daar is slegs 6 plaasaanvalle hierdie maand in vergeleke met die vorige maand/jaar se statistiek’.
Swak my volk, swak.

bloues ·

Maak ogies oop en dink helder. Almal juig oor die Bokke se goeie vertoning, ek kan egter geen verskil in die Bokke se spel sien vanaf die voorafgaande wedstryde nie.

Wat ek wel gesien het is ‘n All Black span met geen motivering. Hulle is klaar die wenners en het geensins hulle beste gegee nie. Inteendeel sou die Wallabies en miskien ook die Pumas die All Blacks op die dag kon klop.

Petra ·

skokke? ek dink eerder mens kon so iets verwag het. Shame, arme bokke, so naby en tog sover. Almal praat oor die drie wat toegeken was nie moes gewees het nie, aners het die bokke gewen. Shame, ma niemand praat van die kanse wat verbrou is deur die bokke, aners sou hulle verder gewen het.
Wonder ook hoekom ‘n verloor deur vreugde vure wat brand, gevier word.

Ansie Geldenhuys ·

Liewe Springbokke … Ons verstaan waardeur jul gaan en dat dit moeilik gaan met jul geestesgesondheid … Sal jul bly ondersteun.

jannie ·

genade. suid afrika se trots die vreugde vure brand hoog Trots is terug in die land .Word wakker suid afrika julle het verloor Julle almal is net besig om die aandag weg te skuif van 57/0 skande !!! Hierdie ou protea spannetjie sal nooit die ALL BLACKS wen nie Dis nou 6-0 en op pad na die rekord van 2004 wat 8-0 was

Boeremeisie ·

Lekker om die All Blacks amper ‘n bloedneus te gee? Nee man daardie game was nie eers ‘n bloukol vir die Kiwi’s nie!

Willie ·

Ons het verloor, ook ons boere in die steek gelaat! Nie veel om oor opgewonde te raak nie!

Ta An ·

Genade, wat gaan aan met ons Suid-Afrikaners! Dit is omdat almal so negatief is dat my span(kan nie sê “ons” span nie, want klink my niemand ondersteun hulle meer nie) so swak
vaar! Hulle word net die hele tyd afgekraak! Wanneer jy die hele tyd net vertel word hoe sleg jy is, glo jy later self dat jy nie beter kan nie. Wanneer jy beter vaar, word daar omiddelik gesê dis maar net omdat die ander span sleg was. Ag nee, ek skaam my vir julle! hoekom
gaan speel julle nie, of gaan rig die span af as julle soveel beter weet? Ek skel ook as hulle
sulke dom foute maak, maar wraggies, so negatief kan ‘n mens ook nie wees nie!

Peanut ·

Amper dog ek dis seisoen kaartjies wat de Allende oorhandig gaan word met sy handetekening daarop, gelukkig skuif ons net af na 5de plek

Wallabies fan ·

Wallabies GO, ja dit skreeu ek sinds die Bokke nie kan rugby speel nie, die Bokke fans weet ook nie eers waneer hulle moet juig of huil nie PATETIES man.
Gaan speel sokker as jy nie kan rugby speel nie.

Boerseun ·

Die vreugde tog om weer te verloor. dis oraait, breek maar ons sal uit ons eie sakke dit weer regmaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.