Twee Springbokke druk vir Toulon in Top14-liga

Twee Springbokke was tussen die driedrukkers vir Toulon in die jongste ronde van die Franse Top-14 liga.

JP Pietersen (buitesenter) en Marcel van der Merwe (plaasvervanger-vaskopstut) het agter die doellyn gaan kuier in hul span se sege van 49-25 oor Oyonnax.

Die gewese Superrugbyspeler van die Sharks, en deesdae ʼn Franse Haan, Scott Spedding (heelagter), het ʼn drie vir Clermont teen Pau gedruk.

Laasgenoemde het die wedstryd met 22-21 gewen.

Johann Sadie (buitesenter), wat Superrugby vir die Stormers en die Cheetahs gespeel het, het ʼn drie vir Agen in sy sege van 27-13 oor Brive aangeteken.

Die Bok Frans Steyn (losskakel), het ʼn doelskop vir Montpellier behaal, wat Lyon met 38-17 verslaan het.

Franse Pro D2-liga

In die Franse Pro D2-liga het die gewese Suid-Afrikaanse Superrugbyspeler Burton Francis (losskakel) met twee doelskoppe en twee strafdoele tien punte tot Grenoble se oorwinning van 28-23 oor Bayonne bygedra.

ʼn Geel kaart het Bayonne se Namibiese toetslosvoorspeler, PJ van Lill, wat dié keer slot gespeel het, se wedstryd versuur.

Danré Gerber (losskakel) het drie strafdoele bygedra tot Mont de Marsan se oorwinning van 24-6 oor Massy.

Hy is die seun van die Springboklegende Danie Gerber, en het as senter Curriebekerrugby vir die Boland gespeel.

Die Bok-stut BJ Botha, een van 2007 se Wêreldbekerwenners, het ook ʼn geel kaart op die lyf geloop toe sy span, Biarritz, vir Soyaux-Angouleme met 34-24 geklop het.

Engelse Premierliga

Drie toesspelers met Suid-Afrikaanse wortels het die doellyn in die Engelse Premierliga oorgesteek.

Die Bok Jaco Reinach (plaasvervanger-skrumskakel) het ʼn drie vir Northampton gedruk in die Saints se nederlaag van 14-35 teen Exeter.

Sy spanmaat Slak van Wyk (plaasvervanger-loskopstut), wat Vodacombekerrugby vir die Westelike Provinsie en Superrugby vir die Western Force gespeel het, is met ʼn geel kaart gestraf.

Nog ʼn Bok, Willie le Roux (heelagter) van Wasps, het ʼn drie gedruk in sy span se sege van 49-24 oor Johan Ackermann se Gloucester.

ʼn Gewese Lions- en Goue Leeus-kaptein, Josh Strauss, wat sedertdien toetsrugby vir Skotland gespeel het, het ʼn drie vir Sale teen Bath gedruk.

Sale het die kragmeting met 32-9 gewen.

Engelse Kampioenskap

In die Engelse Kampioenskap het die Suid-Afrikaans-gebore Luke Daniels vyf van Ealing Trailfinders se ses drieë in die span se sege van 50-24 oor Richmond verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.