Twee Springbokke haal lys vir besbetaalde spelers

Handré Pollard op 25 Oktober 2014 in aksie teen die All Blacks op Ellispark. Foto: GB Jordaan

Met die finansiële onsekerheid wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan, is talle rugby-beheerliggame in ’n finansiële krisis gedompel.

Wales Online het egter onlangs ’n bygewerkte lys van die besbetaalde spelers in wêreldrugby bekend gemaak, met Suid-Afrika se Handré Pollard en Faf de Klerk wat onder dié spelers tel.

Hier is hul lys en wat hulle van elke speler te sê het:

  1. Handré Pollard (Suid-Afrika en Montpellier; £1 miljoen) en Charles Piutau (Nieu-Seeland en Bristol Bears, £1 miljoen):
  • Pollard het sy salaris verdriedubbel nadat hy van die Bulls na die Franse reuse, Montpellier, geskuif het.

Hy is die eerstekeuse-losskakel vir die beste internasionale span ter wêreld en het vir Wallis uit die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi geskop.

  • Die voormalige Nieu-Seelandse agterspeler het na bewering Brittanje se eerste miljoenpond-speler geword toe hy ’n kontrak met die Bristol Bears onderteken het.

 

  1. Maro Itoje (Engeland en Saracens, £875 000):

Volgens Wales Online is Itoje een van die gunstelinge om die Britse en Ierse Leeus gedurende hul toer na Suid-Afrika aan te voer. Hy is die beste slot ter wêreld en sy salaris bevestig net dié stelling.

  1. Owen Farrell (Engeland en Saracens, £750 000):

Die soms ongewilde Farrell het die kontrak ’n rukkie gelede onderteken en dit strek tot 2022.

  1. Steven Luatua (Bristol Bears, £650 000):

Luatua sou Kieran Read se opvolger in die nommeragttrui vir die All Blacks gewees het, maar hy het onlangs sy kontrak met die Bristol Bears verleng.

Die Nieu-Seelanders mag nie spelers kies wat oorsee hul heil gaan soek het nie.

  1. Wallis se Dan Biggar. Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

    Dan Biggar (Wallis en Northampton Saints, £600 000):

Die losskakel van die Rooi Drake is die besbetaalde rugbyspeler in Wallis.

  1. Nicolas Sanchez (Argentinië Stade Français, £580 000) en Morgan Parra (Frankryk en Clermont, £580 000):
  • Die Franse klub het vir Sanches met ’n lekker salaris by die Jaguares weggelok.

 

  • Parra kan losskakel en skrumskakel vir sy klub speel, terwyl sy stelskop-vaardighede van hom ’n gevaarlike speler maak. Hy het egter nie Frankryk se span vir die Wêreldbeker-toernooi gehaal nie.

 

  1. Michael Hooper (Australië en Waratahs, £572 000):

Hooper is Australië se besbetaalde speler en hy kon elders baie meer verdien het as dit nie vir sy lojaliteit jeens die Waratahs was nie. Hy speel sedert 2015 vir hulle.

  1. Stuart Hogg (Skotland en Exeter Chiefs, £550 000) en Manu Tuillagi (Engeland en Leicester Tigers, £550 000):
  • Gedurende Hogg se jare by die Glasgow Warriors was hy die hoogsbetaalde speler in Skotland. Die Chiefs het toe ’n ekstra £200 000 by sy salaris gevoeg.

 

  • Die Engelse senter se jongste kontrak by Leicester het gesorg dat hy ’n verhoging van 25% gekry het.

 

  1. Jonny Sexton (Ierland en Leinster, £536 000):

Ná ’n ietwat ongelukkige tyd by Racing 92 is Sexton terug in Ierland waar die Ierse rugby-unie goed na hom omsien.

  1. Finn Russel (Skotland en Racing 92, £535 000):

Volgens mediaberigte het Russel sy salaris verdubbel sedert hy die skuif van Glasgow na die Franse klub gemaak het.

  1. Beauden Barrett (Nieu-Seeland en Blues, £520 000):

Die gevaarlikste losskakel (deesdae heelagter) in wêreldrugby het vanjaar vir die Auckland Blues in die Superrugby-reeks begin speel.

  1. Faf de Klerk vier ‘n drie (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

    Faf de Klerk (Suid-Afrika en Sale Sharks, £500 000):

Die tweede Suid-Afrikaner op die lys verdien ongeveer R11 miljoen per jaar nadat hy sy kontrak in 2018 met die Sale Sharks verleng het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.