Twee Suid-Afrikaners druk vir Italiaanse span

Derick Minnie (Foto: YouTube)

Twee Suid-Afrikaners het Saterdag albei die Italiaanse klub Zebre van Parma se drieë in sy wedstryd in die Europese Pro12-reeks teen Munster gedruk.

Die Ierse provinsie, wat deur die Springbok Rassie Erasmus afgerig word, het die kragmeting met 50-14 gewen.

Die verloorspan se drieë is deur Lloyd Greeff en Derick Minnie gedruk.

Greeff (linkervleuel), ʼn gewese SA o.21-speler, se Goue Leeus-loopbaan verlede jaar is deur ʼn kniebesering tot ʼn enkele verskyning in die opstelronde van die Curriebekerreeks beperk.

Minnie (flank) het Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel.

♦ In een van Vrydag se wedstyde in die reeks het die Springbok Ruan Pienaar twee doelskoppe en ʼn strafdoel (sewe punte) aangeteken in die Ierse provinsie Ulster se sege van 27-17 oor die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons.

ʼn Gewese slot van die Lions en die Cheetahs, Ligtoring Landman, het ʼn drie vir die Walliesers gedruk.

Italiaanse Super 10

♦ Nog ʼn Suid-Afrikaner wat sewe punte vir sy Europse klub aangeteken het, is die Blitsbok Stef Basson, wat in die Italiaanse Super 10-liga nes Pienaar met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag het.

Dit het die verskil tussen die twee spanne in sy klub Rovigo se oorwinning van 22-15 oor Piacenza gemaak.

Michael Brink (Foto: Rugbymeet)

♦ Michael Brink, die buitesenter van Reggio, het sy span se enigste drie gedruk in ʼn verpletterende nederlaag van 7-77 teen Petrarca.

Dié veelsydige agterspeler het verlede seisoen vir die OP Kings uitgedraf.

♦ Adam Wessels, ʼn slot van San Dona, is teen Calvisano met ʼn geel kaart van die veld af.

Hy het vir die Sharks-klubvyftiental in die provinsiale amateurkampioenskap gespeel.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het Don Armand van Exeter se drie in die 66ste minuut Saterdag die keerpunt gebring in ʼn wedstryd wat tot op daardie tydstip wipplank gery het en sy span het op die ou end met 30-25 gewen.
Die gewese Stormers-slot het verlede jaar saam met die Engelse Saxons in Suid-Afrika getoer.

♦ Tim Swiel, ʼn gewese SA Skolespeler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het een van Harlequins se sewe drieë geruk in die Londense span se wegholoorwinning van 53-17 oor Newcastle.

Franse Top14-liga

♦ In die Franse Top14-liga het Rory Kockott ʼn strafdoel vir Castres teen Grenoble behaal, maar sy span het 20-21 verloor.

Kockott, wat Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel het, het Frankryk as skrumskakel verteenwoordig.

Franse Pro D2-liga

♦ Twee Suid-Afrikaanse vaskopstutte Eugene van Staden (Biarritz) en Nemo Roelofse (Albi) is in die wedstryd tussen dié twee spanne in die Franse Pro D2-liga met geel kaarte gestraf.

Van Staden het Superrugby vir die Sharks gespeel en Roelofse Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte.

Biarritz het die kragmeting met 38-9 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.