Twee uit SA druk drieë in Amerikas-reeks

Hanco Germishuys – drie. (Foto: Facebook)

Twee spelers met Suid-Afrikaanse wortels het drieë vir hul aangenome lande in die jongste ronde van die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) gedruk.

Hanco Germishuys, wat Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig het, het vir Amerika teen Kanada gedruk; en De Wet van Niekerk, ʼn produk van die Stellenbosse Rugbyakademie, vir Brasilië teen Uruguay.

♦ Die Suid-Afrikaanse afrigter Gary Gold se Amerikaanse Arende het op Papa Murphy’s Park in Sacramento, Kalifornië, aanvanklik verrassende taai teenstand van die Kanadese ervaar, en was teen rustyd slegs met 14-7 voor.

Hulle het op die ou end met 29-10 gewen – hul sewende sege op die ry af oor Kanada – nadat hulle in die tweede helfte die botoon gevoer het.

Germishuys, wat goed op dreef is en puik vertoon het, het vir die deurbraak gesorg toe hy op pad doellyn toe drie verdedigers platgevee het.

DTH van der Merwe, die Kanadese vleuel wat op Worcester in die Boland gebore is, het ʼn slag die Amerikaanse verdediging op ʼn bondel getrek en met ʼn netjiese aangee na Patrick Parfrey hul span se enigste drie oorgestuur.

♦ In Sao Paolo, Brasilië, het die tuisspan Vrydag vir Uruguay, wat verlede week Kanada om ʼn plek in die Wêreldbekertoernooi getroef het, harde bene laat kou.

Die Kiewiete moes in die tweede helfte met ʼn 15 punt agterstand (rustyd 3-18) terugveg om uiteindelik met 27-18 te wen.

Van Niekerk het die eerste drie van die wedstryd in die tiende minuut gedruk toe hy ʼn aangee binne toe raakgevat, en oorgeduik het.

♦ Die Argentynse Vyftiental het Chili Saterdag in Ushaia, Vuurland – op die mees suidelike toetsveld ter wêreld – met 57-12 oorskadu.

Albei spanne het opwindende rugby gespeel, maar die Argentyne het eenvoudig te veel skietgoed vir die Kondors gehad.

Drie geel kaarte getuig ook van die mate waarin die besoekers se dissipline hulle in die steek gelaat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.