Twee uit SA kry 20 en 18 in Engeland, Frankryk

Twee spelers uit Suid-Afrika het Saterdag onderskeidelik 20 en 18 punte vir hul spanne in die Engelse en Franse klubligas op die telbord geplaas.

♦ Robert du Preez (losskakel), net soos sy pa en genant, Robert, ʼn Springbok, het Saterdag 20 van sy span, Sale, se 25 punte in die Engelse Premierliga aangeteken.

Saracens het egter die kragmeting met 31-25 gewen.

Du Preez het met ses strafdoele geslaag en Sale se enigste drie verdoel.

Dié drie is deur die Skotse toetsvleuel Byron McGuigan gedruk, wat in Walvisbaai gebore is toe dit nog deel van Suid-Afrika was.

Hy het Grens in die reeks om die Vodacombeker verteenwoordig.

Michael Rhodes, wat Superrugby vir die Sharks, die Lions en die Stormers gespeel het, het een van Sarries se drieë gedruk.

Hy is in Engeland se groep vir vanjaar se November-toetse ingesluit, maar het nie ʼn speelbeurt gekry nie.

♦ Mike Williams (flank) het Leicester se drie in sy nederlaag van 13-36 teen die Springbok Johan Ackermann se Gloucester gedruk.

Hy het onderouderdomsrugby vir die Sharks (as kaptein) en die Blou Bulle gespeel, en is in 2016 in die Engelse toetsgroep ingesluit, maar het ʼn arm gebreek voor hy die trui met die Roos op die bors oor die kop kon trek.

Franse Pro D2-liga

♦ Hansie Graaff (heelagter) het 18 punte tot Massy se sege van 38-16 oor Provence in die Franse Pro D2-liga bygedra.

Hy het drie van sy span se vier drieë verdoel, en met vier strafdoele geslaag.

Graaff het Curriebekerrugby vir die Griffons en Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Edwin Hewitt (slot), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het een van Biarritz se twee drieë in sy sege van 21-16 oor Carcassonne gedruk.

♦ Pellow van der Westhuizen (haker) het Vannes se eerste drie gedruk in sy sege van 28-27 oor Montauban.

Hy is ʼn gewese SA o. 21-speler, wat Superrugby vir die Sharks gespeel het.

♦ Die Blitsbok Shaun Adendorff (agsteman) het een van Aurillac se vier drieë in sy sege van 31-7 oor Mont de Marsan gedruk.

♦ Tristan Tedder (losskakel) het ʼn strafdoel vir Bayonne in sy nederlaag van 13-30 teen Beziers behaal.

Sy spanmaat Torsten van Jaarsveld (haker) is met ʼn geel kaart gestraf.

Tedder het die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig; Van Jaarsveld, wat toetsrugby vir Namibië speel, het Superrugby vir die Cheetahs gespeel.

♦ Johan Deysel (buitesenter) van Colomiers, nóg ʼn toetsspeler van Namibië, het ʼn rooi kaart teen Nevers op die lyf geloop in ʼn wedstryd wat laasgenoemde met 24-23 gewen het.

Hy het die Sharks in Superrugby verteenwoordig.

Italiaanse Top12-liga

♦ Armand du Preez (slot), die seun en naamgenoot van die Junior Springbok Armand du Preez, het ʼn drie vir Emilia in sy sege van 54-10 oor Lazio in die Italiaanse Top12-liga gedruk.

Du Preez jr is ʼn gewese SA Skole-speler wat vir die Vrystaat-vyftiental in die reeks om die Vodacombeker gespeel het.

♦ Thor Halvorsen (agsteman), wat Boland en Suidwestelike Distrikte verteenwoordig het, het ʼn drie vir Rovigo teen Calvisano gedruk.

Sy span het met 27-20 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.