Twee Suid-Afrikaners het vir byna al Kubota Spears se punte gesorg in sy naelskraapse oorwinning van 26-24 oor Toshiba Brave Lupus in die Japanse Topliga.
Die Springbok Duane Vermeulen (agsteman) en Gerhard van den Heever (heelagter), wat Superrugby vir die Bulls en die Stormers gespeel het, het twee van die wenspan se drie drieë gedruk.
Laasgenoemde het ook met ʼn doelskop en drie strafdoele geslaag om altesaam 16 punte op die telbord te plaas.
♦ Lionel Cronjé (losskakel) het vier doelskoppe (agt punte) tot Toyota Verblitz se sege van 38-38 oor NTT Shining Arcs bygedra.
Sy Arcs-eweknie, Garth April, het sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir sý span aangeteken.
Albei het vir Suid-Afrika A gespeel.
Verblitz se bankslot, Carl Wegner, is koelkas toe gestuur. Hy is ʼn gewese SA o. 20-speler, wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het.
♦ Twee Suid-Afrikaanse losvoorspelers, Philip van der Walt (Canon Eagles se agsteman) en die Bok Kwagga Smith (ʼn flank van Yamaha Jubilo), het elk ʼn drie in die botsing tussen die twee spanne gedruk.
Jubilo het die Eagles met 52-17 opgedreun.
Van der Walt het die Cheetahs en die Sharks in Superrugby verteenwoordig.
♦ Nóg ʼn Bok, André Esterhuizen (binnesenter), het ʼn drie vir Munakata Sanix Blues teen Suntory Sungoliath gedruk, en sy spanmaat Hencus van Wyk (vaskopstut) het ʼn geelkaart op die lyf geloop.
Sungolitah het die wedstryd met 40-18 gewen.
Van Wyk is ʼn gewese Superrugby-speler van die Bulls en die Lions.