Twee uit SA kry byna alle punte vir Rovigo

Stefan Basson (Foto: Rovigo Rugby)

Stefan Basson (Foto: Rovigo Rugby)

Twee spelers uit Suid-Afrika het Saterdag byna al Rovigo se punte aangeteken toe hy Calvisano 32-10 in die Italiaanse Super10-liga geklop het.

Die gewese Blitsbok, Stefan Basson, wat week ná week Rovigo aan die wenkant hou, het dié keer 22 punte met ses strafdoele en albei sy span se doelskoppe aangeteken.

Die senter Joe van Niekerk, wat in Bloemfontein gebore is en al vir Italië A gespeel het, het een van die wenspan se twee drieë gedruk.

♦ In dieselfde liga het die gewese Bolandse losvoorspeler Thor Halvorsen een van Mogliano se agt drieë in sy oorwinning van 56-12 oor Piacenca behaal,

Pro12-liga

♦ Ook in die Pro12-liga het Suid-Afrikaners vir hul Italiaanse spanne drieë gedruk.

Braam Steyn, wat sy buiging vir Italië in die afgelope Sesnasiesreeks gemaak het, het een van Benetton Treviso se drieë in sy skokoorwinning van 22-21 oor Connacht gedruk.

Die onverwagse nederlaag teen die span wat tweede laaste in die liga is, het die Ierse span sy eerste plek op die punteleer gekos.

♦ Kayle van Zyl, wat in 2013-2014 vir die OP Kings gespeel het, het `n drie vir Zebre van Parma teen die Glasgow Warriors gedruk.

Die Skotte het 70-0 gewen.

♦ In `n ander wedstryd in die Pro12-liga het Hanno Dirksen, die seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen, twee keer vir die Ospreys (Swansea) in sy sege van 40-27 oor Cardiff Blues gedruk.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.