Twee uit SA kry tweekunste in Italiaanse Top12

Twee spelers uit Suid-Afrika het Saterdag elk twee keer in die Italiaanse Top12-liga agter die doellyn gaan kuier.

Dis nie aldag dat ʼn stut twee drieë in ʼn wedstryd druk nie, maar Nico du Plessis (vaskop) het dit Saterdag in dié liga vermag.

Dié gewese Curriebeker-speler van die Goue Leeus se bydrae het Emila gehelp om Mogliano met 24-15 te verslaan.

♦ Kayle van Zyl (heelagter), wat die OP Kings in die reeks om die Curriebeker-verteenwoordig het, het op sý beurt twee drieë vir Calvisano in sy sege van 31-20 oor Viadana gedruk.

♦ Thor Halvorsen (agsteman) het ʼn drie vir Rovigo in sy wegholsege van 61-7 oor Verona gedruk.

Sy spanmaat Jacques Momberg (haker) het in die koelkas beland.

Halvorsen het Curriebeker-rugby vir Boland en Suidwestelike Distrikte gespeel, en Momberg was ʼn lid van die Pumas-span wat die Vodacombeker in 2015 gewen het.

♦ ʼn Ander vaskopstut uit Suid-Afrika, Etienne Swanepoel, het ʼn geel kaart in dié reeks op die lyf geloop.

Sy span, Valsugana, wat deur die gewese Bolandse speler Polla Roux afgerig word, het San Dona met 24-17 geklop.

Swanepoel het die Kings in die Pro14-reeks verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.