Twee uit SA lewer vonk vir Pro 14-seges

Argieffoto (Foto: hirobi/Pixabay)

Twee Suid-Afrikaners het die vonk vir hul oorsese spanne gelewer om belangrike seges in die jongste ronde Pro14-wedstryde te behaal.

Jaco van der Walt, die losskakel van die Skotse superklub Edinburgh en ʼn gewese SA Skole- en Lions-speler, het met 12 punte in agt minute sy span se agterstand van 8-12 teen die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) in ʼn oorwinning van 20-12 omskep.

Van der Walt het in dié tyd met twee doelskoppe geslaag, ʼn drie gedruk en ʼn strafdoel behaal. ʼn Vroeëre strafdoel het sy totaal vir die wedstryd op 15 punte te staan gebring.

Edinburgh het hierdeur sy voorsprong met die oog op die halfeindstryd vergroot, maar die Scarlets se hoop begin vervaag.

Johann van Graan, ʼn gewese Springbokhulpafrigter, se Munster-span was met 17-21 agter toe die Ierse toetsspeler CJ Stander, wat die Bulls in Superrugby verteenwoordig het, met ʼn skitterende vertoning van die bank af nuwe lewe in die Ierse provinsie geblaas het. Die bankagsteman het op die koop toe die eerste van drie drieë gedruk, wat Munster ʼn sege van 45-21 oor die Walliese streekspan Cardiff Blues – en ʼn plek in die halfeindstryd – besorg het.

Die Skotse superklub Glasgow Warriors is steeds die voorloper in Afdeling A nadat hy die Ierse provinsie Ulster met 30-7 opgekeil het.

Die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) se oorwinning van 31-14 in Bloemfontein oor die Cheetahs hou hom ook nog in die jagtog om ʼn halfeindplek.

Die Ierse provinsie Connacht het weliswaar sy hande vol gehad om die agteros in Afdeling A, die Italiaanse klub Zebre (Parma) naelskraap met 6-5 te klop, maar die vier ligapunte wat hy daarmee verdien het, plaas hom in ʼn sterk derde plek in dié afdeling.

ʼn Verdoelde drie in die doodsnikke van hul wedstryd het verseker dat die Italiaanse klub Benetton Treviso met 27 elk teen die Ierse provinsie Leinster gelykop speel en sodoende steeds in die wedloop om ʼn plek in die halfeinstryd bly. Leinster het reeds sy plek in die eindstryd bespreek.

Die Walliese streekspan Dragons, het sy aansien in ʼn mate gered toe ʼn strafdoel in die 78ste minuut hom in staat gestel het om in Port Elizabeth met 18-18 teen die Kings gelykop te speel, maar hy is steeds laaste in Afdeling B en dit is langer as vier jaar dat hy laas ʼn wegwedstryd in die reeks kom wen.

Die voorloper in elke afdeling van die reeks dring regstreeks na die eindstryd deur, en die spanne in die tweede en derde plekke durf mekaar oorkruis in die halfeindronde aan.

Opbeurende aspekte wat die sukkelende Suid-Afrikaanse spanne betref, is dat die Cheetahs se Rabs Maxwane se 13 drieë tot dusver die meeste deur ʼn speler in die reeks is, en dat hy ook met 31 skoon breekslae die beste in die opsig vaar. Die 80 skoon lynstane wat die Vrystaters se JP du Preez gewen het, is ook die beste individuele vertoning in die geval.

Daar is ongelukkig ook ʼn verdoemende keersy: Die Cheetahs het met 307 gevalle meer omkeerbesit as enige ander span afgestaan; en met 23 geel en drie rooi kaarte asook 239 strafskoppe “spog” die Kings tans met die swakste dissiplinêre rekord in die reeks.

Die puntemakers –

Glasgow Warriors 30 (20) – Drieë: Fraser Brown, Adam Hastings, Tommy Seymour, Xander Fagerson. Doelskoppe: Adam Hastings (2). Strafdoele: Adam Hastings (2).
Ulster 7 (7) – Drie: Rob Herring. Doelskop: John Cooney.

Munster 45 (17) – Drieë: Chris Farrell, Jean Kleyn, CJ Stander, Conor Murray, Andrew Conway, Sammy Arnold. Doelskoppe: Tyler Bleyendaal (5), JJ Hanrahan. Strafdoel: Tyler Bleyendaal.
Cardiff Blues 21 (14) – Drieë: Tomos Williams, Aled Summerhill, Rey Lee-Lo. Doelskoppe: Gareth Anscombe (3).

Cheetahs 14 (0) – Drieë: Dries Swanepoel, Reinach Venter. Doelskoppe: Tian Schoeman (2).
Ospreys 31 (14) – Drieë: Dan Evans, Olly Cracknell, Justin Tipuric, Cory Allen. Doelskoppe: Luke Price (2), Sam Davies (2). Strafdoel: Sam Davies.

Zebre 5 (0) – Drie: Mattia Bellini.
Connacht 6 (6) – Strafdoele: Jack Carty (2).

Scarlets 12 (12) – Drieë: Gareth Davies, Jonathan Davies. Doelskop: Leigh Halfpenny.
Edinburgh 20 (0) – Drieë: Matt Scott, Jaco van der Walt. Doelskoppe: Jaco van der Walt (2). Strafdoele: Jaco van der Walt (2).

Leinster 27 (6) – Drieë: Ciaran Frawley, James Lowe, Bryan Byrne. Doelskoppe: Ciaran Frawley (3). Strafdoele: Noel Reid, Ciaran Frawley.
Benetton Treviso 27 (13) – Drieë: Luca Bigi, Federico Ruzza, Iliesa Ratuva Tavuyara. Doelskoppe: Tommaso Allen (3). Strafdoele: Tommaso Allen (2).

Kings 18 (13) – Drieë: Stefan Ungerer, Bjorn Basson, Harlon Klaasen. Strafdoele: Werner Pretorius.
Dragons 18 (8) – Drieë: Adam Warren, Jordi Williams. Doelskop: Josh Lewis. Strafdoele: Josh Lewis (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.