Twee uit SA oes geil in Japanse Topliga

Twee spelers uit Suid-Afrika het pas onderskeidelik 17 en 16 punte in die Japanse Topliga op die telbord geplaas.

Francois Brummer, ʼn gewese losskakel van Suid-Afrika A, het Saterdag 17 punte in Toyota Shokki Shuttle se oorwinning van 47-7 oor Coca-Cola West Red Sparks behaal.

Dit het uit vier doelskoppe en drie strafdoele bestaan.

Sondag het die gewese SA o.20-, Stormers-, Sharks- en Kings-losskakel Lionel Cronjé 16 punte – 11 daarvan nadat hy tien minute in die koelkas deurgebring het – vir Toyota Verblitz teen Suntory Sungoliath behaal.

Pas nadat hy terug op die veld was, met sy span 10-13 agter, het hy ʼn drie gaan druk en dit verdoel. Hy het ook sy span se drie ander drieë verdoel.

Sungoliath het op die ou end met 32-31 gewen.

In die wedstryd Sondag tussen Toshiba Fuchu Brave Lupus en NTT Docomo Red Hurricanes het hul Suid-Afrikaanse heelagters saam 20 punte aangeteken.

Eersgenoemde was met 32-18 baas.

Die Springbok Riaan Viljoen het ʼn drie, doelskop en twee strafdoele (13) vir die verloorspan bygedra; en Coenie van Wyk twee doelskoppe en ʼn strafdoel (sewe) vir die verloorspan.

Van Wyk het Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel.

ʼn Gewese Bulls-stut, Hencus van Wyk, het ʼn drie vir Munakata Sanix Blues in sy nederlaag van 22-24 teen Canon Eagles gedruk.

Shane Gates (buitesenter), voorheen van die Kings, het Saterdag NTT Shining Arcs se enigste drie in sy slae van 10-36 teen Yamaha Jubilo aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.