Twee uit SA op telbord in APC-reeks

Guiseppe du Toit – ‘n doel vir Kanada A. (Foto: Rugby Canada)

Twee spelers met Suid-Afrikaanse wortels het Saterdag in die Amerikas- Stille Oseaanreeks (APC) punte op die telbord geplaas.

Albei spanne het egter in die stof gebyt in die toernooi in Montivideo, Uruguay.

Guiseppe du Toit, die binnesenter van Kanada A, het ʼn drie gedruk en dit self verdoel, maar die Argentynse Vyftiental, die verdedigende kampioen, het die Kanadese met 71-17 oorrompel (rustyd 38-5).

Die 22-jarige Du Toit, ʼn gewese Johannesburger, het Kanada al in ses toetse verteenwoordig.

JP Eloff, ʼn oudleerling van die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria, met nege toetse vir Amerika agter sy naam, het van die bank af gespeel om ʼn doelskop vir die Amerikaanse Uitnodigingspan teen Samoa A te behaal.

Die Suidsee-eilanders het met 48-26 gewen nadat Amerika byna die helfte van die wedstryd met 14 man moes klaarkom (rustyd 17-14).

Die 21-jarige Arende-losvoorspeler Hanco Germishuys (twee toetse), wat Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig het, het kort ná rustyd die trekpas gekry omdat hy, volgens die wedstrydbeamptes, die vuis ingelê het.

In Saterdag se derde wedstryd in die reeks het Uruguay A met doeltreffende skrumwerk daarin geslaag om Tonga A te tem, en met 34-25 te troef.

♦ In die eerste kragmeting van die Suid-Amerikaanse B-kampioenskap vanjaar het Colombia in Lima, Peru, ʼn indrukwekkende sege van 50-3 oor die tuisspan behaal.

Die binnesenter Juan Diosa het 20 van die wenspan se punte met ʼn drie, ses doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.