Twee van die hartseer stories van Springbokrugby

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Die Nieu-Seelanders het onlangs gaande geraak oor die monsterstrafdoel van byna 60 m waarmee die Hurricanes se heelagter, Jordie Barrett, in ʼn Superrugby Aoteoroa-wedstryd teen die Chiefs geslaag het.

Eweneens was hulle opgewonde oor die vertoning van die Blues se kragvleuel, Caleb Clarke, teen die Highlanders.

Dit het my laat terugdink aan twee van die heel ongelukkigste Suid-Afrikaanse spelers wat nooit die Springboktrui gedra het nie – Chris Luther en Niel Burger.

Luther, wat in die sestiger- en sewentigerjare vir Noord-Transvaal heelagter en soms ook vleuel gespeel het, was ʼn frats.

Daar word vertel dat een van sy strafdoele destyds teen Vrystaat in Bloemfontein 73 m ver was. Dis nie ʼn wolhaarstorie nie, want die afstand is ná die wedstryd afgemeet.

Luther wás baie na aan die Springbokspan, maar hy het sy been in ʼn Curriebekerwedstryd teen Griekwas gebreek kort voordat die Springbokspan gekies is en sy kanse was daarmee heen.

Dié polisieman wat op Brits op skool was, was baie lank vir ʼn heelagter (1,92 m), maar tog vinnig en kon soos ʼn muil skop ­– boonop met ʼn ou Springbok-leerbal wat hy altyd skuins gestel op ʼn sandhopie en met sy toon getref het.

Burger is nog ʼn speler wat beslis Springbok moes gewees het.

Hy was een van die Streeptruie se groot uitblinkers in hul goue tagtigerjare toe hulle die Curriebeker vyf keer agtereenvolgens gewen het.

Burger, wat nie baie lank was nie, het bobene soos boomstompe gehad en was boonop vinnig.

ʼn Kleiner weergawe van Jonah Lomu en baie soos Va’aiga Tuigamala, wat net soos Lomu amok vir die All Blacks gemaak het.

Wanneer Burger naby die doellyn was, kon jy meer punte agter jou naam geskryf het.

Ongelukkig het hy in die isolasiejare gespeel toe Springboktoetse so skaars soos hoendertande was.

Hy hou steeds die WP-rekord vir die meeste drieë: 95 in 126 wedstryde, met die Curriebekerrekord van 14 drieë in 1984 steeds agter sy naam.

Barrett en Clarke of Luther en Burger?

Daar is net een antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ai, mis die rugby en al die spelers. Ons dink aan almal van hulle wat ook geraak word deur hierdie grendeltyd. Ek is seker al die rugbyspelers mis ook die spel waarvoor hulle so lief is. Sterkte aan julle. Ons vergeet nie van julle nie.

Kruger ·

Ek onthou De Wet Ras het in ‘75 n monster skop in die doodsnikke in Bloemfontein deurgeskop. 12m in sy helfte. Kan nie onthou wie teen Vrystaat gespeel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.