Rhodes, Schonert onder agt nuwelinge in Engelse jaareindgroep 

Michael Rhodes se toetskans kom uiteindelik op 30. (Foto: Twitter @aplenorugby)

Die Engelse afrigter Eddie Jones het ʼn paar oë laat rek maar onder moeilike omstandighede baie naby aan die span gekies wat die meeste kenners verwag vir die vier jaareindtoetse verwag het.

Die kaptein en flank van die Chiefs, Brad Shields, die voormalige flank van die Sharks, Lions en Stormers Michael Rhodes is albei gekies. Daarmee saam is die 15 beseerdes en ʼn geskorste wat nie oorweeg kon word nie en die weglating van Danny Cipriani op losskakel die vernaamste  besprekingspunte van Engeland se span.

Rhodes sal, soos die stut Nick Schonert wat vir die Sharks en Griekwas Curriebeker-rugby gespeel het, sy toetsbuiging maak as hy vir een van die vier toetse nadergetrek word. Hy het reeds vir Engeland teen die Britse Barbarians uitgedraf maar dit word nie as ʼn toets gereken nie.

♦ Dit is veral op loskop en agsteman waar Engeland oënskynlik aan die dun kant is en waarom Rhodes en Shields in die kollig is.

Op loskop is daar vyf voorste spelers wat beseer is en nie oorweeg kon word nie. Mako Vunipola (kuitspier) Ellis Genge, Beno Obano en Matt Mullan is uit al vier toetse en Joe Marler het pas uitgetree om meer tyd by sy gesin deur die bring.

Die onervare Ben Moon en Alec Hepburn is as die loskoppe gekies, wat na ʼn bietjie dun vir vier toetse lyk. Moon speel al elf jaar lank klubrugby maar het nog nie op ʼn hoër vlak, selfs nie eers vir die Saxons, Engeland se A-span, uitgedraf nie en Hepburn het nog net in twee toetse gespeel.

Op agsteman moes Jones aanpas by die verlies van Billy Vunipola, die sterk en swaar agsteman. Sy afwesigheid versteur die balans van die lostrio en het waarskynlik aan Rhodes kans gegee wat ook ʼn goeie draer van die bal is en moontlik as nommer sewe-flank aangewend sal word. Taulupe Faletau (gebreekte arm), Sam Simmons (geskeurde anterior kruisligament) en Nathan Hughes, wat Donderdag van sy skorsing vir ses weke verneem het, se afwesigheid is bydraend tot die probleme op agsteman.

Shields, wat vanjaar sy toetsbuiging teen die Springbokke gemaak het nog voordat hy klubrugby in Engeland gespeel het, Tom Curry, Sam Underhill, Mark Williams, Charlie Ewels en die onervare (geen toets, redelik nuut in die premierliga) Ben Morgan, maak saam met die 19-jarige “vakleerling” Ted Hill ʼn negetal uit waar raakgevat sal moet word vir die regte lostrio-balans.

♦ Die twee losskakels is die medekaptein Owen Farrell en George Ford met die gereelde kaptein en haker Dylan Hartley wat terug is ná sy besering en saam met Farrell die span sal aanvoer.

Cipriani, wat vanjaar op Nuweland skitterend in sy eerste begintoets sedert 2008 was en sedert sy skuif dié seisoen na Gloucester, is weer nie in die groep nadat hy ook nie na die afgelope oefenkamp genooi was nie. Miskien is daar finaal besluit, genoeg is genoeg oor sy manewales van die veld af.

Die Engelse span ‒

Agterste driehoek: Elliot Daly, Jack Nowell, Joe Cokanasiga, Mike Brown, Nathan Earle, Jonny May, Chris Ashton.
Senters: Henry Slade, Ben Te’o, Manu Tuilagi, Alex Lozowski.
Losskakels: Owen Farrell (medekaptein), George Ford
Skrumskakels: Danny Care, Ben Youngs, Richard Wigglesworth.
Losvoorspelers: Brad Shields, Tom Curry, , Michael Rhodes, Sam Underhill, Mark Williams, Charlie Ewels, Ted Hill, Zach Mercer, Ben Morgan.
Slotte: Maro Itoje, George Kruis, Courtney Lawes, Elliot Stooke.
Voorry: Ben Moon, Alec Hepburn, Dylan Hartley (medekaptein), Jamie George, Harry Williams, Kyle Sinckler, Nick Schonert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.